Vanaand met Pienaar Lochner

Weeksdae
18:00 - 22:00

Luister nou

Volgende

Eie rigting: Trump se tarief-waagstuk

Deur: Willie Spies

Daar is ’n tikkie ironie in die invoertariewe wat die Amerikaanse president, Donald Trump, verlede week in werking gestel het en waarmee hy die internasionale markte in beroering gebring het.

President Trump is ’n onbetwiste kapitalis.

Invoertariewe en proteksionisme is gewoonlik beleidsmaatreëls wat eerder met sosialistiese as vryemarkekonomieë verband hou.

Dit werk juis vrye internasionale mededinging teë.

Prakties beteken dit dat die land wat die invoertariewe hef, sy verbruikers eintlik straf met belasting op ingevoerde goedere.  Dis ’n belasting wat betaal word deur die belastingbetalers van die land wat die maatreëls instel.

Die doel daarvan is gewoonlik om die mark te stimuleer vir plaaslik vervaardigde produkte en te verseker dat plaaslik vervaardigde produkte nie uit die mark gedruk word deur goedkoop ingevoerde produkte nie.

Die Suid-Afrikaanse tekstielbedryf is een voorbeeld van ’n bedryf wat baie seergekry het weens sy onvermoë om mee ding met goedkoop klere en materiaal wat uit lande soos China ingevoer is.

Westerse lande, insluitend die VSA, ervaar soortgelyke druk.

Met e-handel het Chinese platforms soos Temu en Shein massiewe uitvoerders van Chinese produkte na die wêreld geword, en elke individu met ’n internetkonneksie is nou ’n invoerder van Chinese produkte.

Donald Trump het reeds sedert die 1980’s gepleit vir invoertariewe in die VSA om Amerikaanse vervaardigers te beskerm. Op daardie stadium was nog ’n Republikein, Ronald Reagan, die president van die VSA en uitgesproke oor sy teenkanting teen invoertariewe.

Reagan se redes destyds is steeds die redes waarom ekonome en kommentators vandag kritiek op Trump lewer:

  • Tariewe wat op ingevoerde komponente gehef word, maak die komponente duurder en druk pryse op – hoër inflasie volg dus.
  • Plaaslike vervaardigers doen minder moeite om produktief te wees, want hulle kan met ’n 30% laer inset dieselfde pryse vir hulle produkte vra as ingevoerde goedere – hulle raak dus luier en minder doeltreffend.
  • ’n Handelsoorlog volg en handelsvennote stel soortgelyke invoertariewe in op die Amerikaanse produkte, wat weer Amerikaanse uitvoere onder druk plaas.
  • Die dollar as geldeenheid verloor sy glans omdat dit nie meer die geldeenheid is waarin netto uitvoerders na die VSA hulle handelsurplusse hou nie.
  • Depressie kan volg omdat niemand werklik wen nie.

Hierdie klassieke beginsels en vertrekpunte het wel veertig jaar gelede gegeld. Die vraag is of dit vandag steeds geld. China was in 1988 ’n veel kleiner ekonomiese rolspeler as vandag. In 1988 was die BBP per kop in China $371. Verlede jaar was dit $13 445.

Die Amerikaanse ekonoom en Nobelpryswenner prof. Paul Krugman is een akademikus wat nie saamstem dat die Groot Depressie van die 1930’s deur invoertariewe en proteksionisme veroorsaak is nie. Dit maak hom egter nie ’n ondersteuner van president Trump se tariewe nie. Inteendeel, hy is uiters krities daaromtrent en blameer veral die onsekerheid as gevolg van die arbitrêre aard van president Trump se tariefaankondigings as ’n faktor wat die wêreldekonomie drasties kan benadeel.

Terwyl die marke wêreldwyd tans steier onder verlede week se “bevrydingsdag-aankondiging” deur president Trump om heffings op byna elke ander land in die wêreld se uitvoer na die VSA in te stel, is die vraag dus of daar meriete is in wat Trump gedoen het.

Eerstens is dit belangrik om daarop te let dat daar steeds geweldige mededinging tussen ondernemings binne die VSA is. Die feit dat daar ’n perk op mededingendheid van maatskappye uit ander lande gaan wees, beteken nie noodwendig dat laksheid en onproduktiwiteit gaan volg nie.

Tweedens is die Amerikaanse verbruikersmark baie groot en welvarend, en is dit vir ander lande in die wêreld waarskynlik voordeliger om in die VSA te sake te doen as wat dit vir die VSA is om daar sake te doen.

Derdens is die een ekonomie wat waarskynlik kan baat vind by Trump se tariewe, die Amerikaanse ekonomie. Met sy ekonomiese nasionalisme gaan belasting-inkomste uit invoere styg en kan hy bekostig om die belastinglas op maatskappye te verlig ten einde produksie ’n hupstoot te gee.

Die verloorders is ongelukkig uitvoerders na die VSA, wie se produkte nou duurder gaan wees. Dit sluit Suid-Afrika in.

Die vraag is of President Trump se planne gaan werk.

Die antwoord is nie so seker soos wat sy grootste ondersteuners of sy grootste teenstanders dalk dink nie.

Indien dit wel werk, gaan dit veral vir die VSA werk, terwyl die res van die wêreld maar steeds aan die kortste ent gaan trek.

Wat wel waar is, is dat die wêreldparadigma totaal anders is as in die 1930’s sowel as die 1980’s, en dat die sekerhede van daardie tyd vandag allermins sekerhede gaan wees.

Spies is verbonde aan die prokureursfirma Hurter Spies Ing en die uitvoerende voorsitter van Pretoria FM se direksie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

PADWAARDIG

SOE ondersoek OUTA se verslag oor bedrieglike padwaardige-sertifikate

WapensvirSAPD_17April2025

AfriForum oorhandig nuwe “wapens” aan polisieminister se lyfwagte

POLISIE2-1

10 000 speurders sluit by privaatsektor aan of bedank in die afgelope 9 jaar

NA Exterior

OUTA vra vir strenger regulering van voordele aan openbare ampsdraers

VAPE-1

DA nader gesondheidsdepartement oor tieners se gebruik van damptoestelle

Ander Nuus Artikels

Donald Trump
Nuuskommentaar: Die ANC se stryd teen Trump én realiteit
NWU
NWU sê hy bevind geen bewyse van sangoma-ritueel nie
ENOCH1-large
“Geen hofsaak sal BTW-verhoging keer nie”
PADWAARDIG
SOE ondersoek OUTA se verslag oor bedrieglike padwaardige-sertifikate
WapensvirSAPD_17April2025
AfriForum oorhandig nuwe “wapens” aan polisieminister se lyfwagte

Vanaand met Pienaar Lochner

Weeksdae
18:00 - 22:00

Luister nou

Volgende