Nuuskommentaar: 25 Januarie 2023
Deur: Johnell van Vollenhoven
Vervalle staatsentiteite en basiese dienste wat nie gelewer word nie, is vir Suid-Afrikaners alledaags. Ons sien hoe poskantore toemaak, SAL sukkel en ons beleef daagliks uitdagings as gevolg van volgehoue beurtkrag.
Alhoewel swak dienslewering en die wanbestuur van instellings vir elkeen ʼn wesenlike probleem is, is dit egter die penarie waarin Eskom homself bevind wat ons van emosie na aksie laat oorgaan.
Om in die verkeer te sit, en laat te wees vir skool en werk is geen grap nie. En die situasie raak ernstiger wanneer beurtkragskedules by huishoudings se roetines asook by die verrigting van werktake inmeng. Dit raak nog méér van ʼn kwelpunt wanneer ondernemings voorsiening vir hul eie krag gedurende beurtkrag moet maak en dit die verbruiker se sak begin raak. En dan bereik ʼn mens breekpunt wanneer jy jou eie onderneming se deure moet toemaak omdat die koste van tussenkrag net te duur geraak het.
Skade. Dit eskaleer op verskeie vlakke soos wat erger fases vir langer tye geld.
Op hierdie stadium voel dit vir die meeste persone soos ʼn diep donker tonnel sonder einde en met (letterlik) geen lig aan die einde daarvan nie. Dit voel tans of daar meer probleme as oplossings is.
Die rede hiervoor is waarskynlik omdat die meeste van ons nog geneig is om na die regering vir antwoorde te kyk. Ons verwag dat verandering vanuit die staat sal kom en dat dit die lewe vir elkeen van ons beter sal maak. Dit is immers waarom ek belasting betaal en wat die staat se werk is … is dit nie?
Maar die realiteit is dat hierdie staat doodeenvoudig nié in staat is om sy mandaat uit te voer nie en dat afhanklikheid van die staat die mag van sy burgers ontneem.
Wat eerder wenslik is, is dat oplossings vanuit gemeenskappe in samewerking met die privaat sektor na vore sal kom. Kundigheid en ervaring is iets waaraan daar weinig tekort is wanneer daar op gemeenskapsvlak of binne die privaat sektor na spesifieke oplossings gesoek word. Mense wil betrokke raak. Mense wil help. Mense wil opstaan uit die vervalle realiteite van die staat wat op hulle afgedwing word en hulle is bereid om ʼn hand by te sit vir die sukses van hul gemeenskappe.
Die staat het nie die antwoorde nie. Daar is geen politieke wil om die regte besluite te neem nie. Nuwe skole word nie gebou nie; paaie word nie herstel nie.
Maar wanneer ons na binne keer en met eie oplossings vorendag kom, blyk die oplossings skielik haalbaar en die uitkomste gunstig vir almal. Minder mag aan die staat en meer aan die gemeenskap. Met net genoeg toegepaste druk wil dit lyk of elektrisiteitvoorsiening uiteindelik miskien gedesentraliseer gaan word. Elektrisiteitvoorsiening is ʼn maklike voorbeeld. Op ʼn klein skaal kan ons mekaar begin help. Die belofte van nuwe elektrisiteitverskaffers blink op die horison. Dit is oplossings wat vanuit die privaat sektor en vanuit gemeenskappe ontstaan. Dit is uit nood gebore om ʼn totale krisis te vermy.
Oral waar gemeenskappe hande vat raak omstandighede stelselmatig beter. Daar is minder probleme en goed begin werk; alles geskoei op die beginsel van minder staat en meer self.
Die staat se taak het bitterlik vereenvoudig geraak. Om sy burgers te kan dien moet hy sy magsvergrype en rasse-ideologie laat staan. Hy moet seker maak regulasies word geskrap en dat wetgewing burgers in staat stel om in onafhanklikheid oplossings te vind en na te volg.
Hieruit kan beter kwaliteit onderwys, heel paaie en ligte wat aan is, bydra tot ʼn beter ekonomie. Die energie hiervan is aansteeklik. Sukses kweek meer sukses en ons doen dit self.