Nuuskommentaar: 26 Januarie 2022
Deur: Reiner Duvenage
Verlede week Woensdag het die EFF ongemagtig by restaurante in die Mall of Africa en Menlyn Mall ingestorm en van besigheidseienaars geëis om spesifieke besonderhede van werknemers te verskaf.
Die doel van hierdie handeling was om na te gaan of besighede nie méér buitelanders as Suid-Afrikaners in diens neem nie. Ná afloop van die gebeure, moes EFF-leier Julius Malema egter stert tussen die bene erken dat dit in werklikheid nie die geval is nie.
Malema het ook ná die insident op ’n bisarre wyse probeer om vir sy party se openlik xenofobiese optrede te vergoed deur volgens Netwerk24 te sê: “Afrikane mag hier werk, maar dit mag nie wees tot nadeel van Suid-Afrikaners nie.”
In hierdie lig, wil dit dus voorkom dat die EFF in 2022 van sy vorige pan-Afrikanistiese idees afwyk. Daar kan gespekuleer word dat dit ’n poging is om Action SA en Herman Mashaba se strenger immigrasiebeleid, wat aanklank by baie Suid-Afrikaners vind, ná te aap. Waar die EFF egter die pot (soos gewoonlik) mis sit, is dat daar ’n enorme verskil tussen ’n verantwoordelike immigrasiebeleid en die teiken en teistering van sekere bevolkingsgroepe is.
Die insident beklemtoon dus die diepgewortelde rewolusionêr-Marxistiese idees van haat waarop die EFF gebou is. Terwyl dit goed is dat die EFF se optrede Woensdag wyd veroordeel is, wys dit ook op ’n dubbele standaard in die dekking wat die party tot dusvêr in die openbaar geniet het.
Waar was die bohaai toe die EFF Afrikaners en wit Suid-Afrikaners (om van die EFF se eie rasgedrewe retoriek gebruik te maak) oor die jare geteiken het? Waar was openbare opskudding toe die EFF “Kill the Boer” by Brendan Horner se plaasmoord-hofsaak in Senekal gesing het?
Die EFF se afkeur vir “witmense” is lankal bekend, maar dit is skynbaar eers noudat ander “swart Afrikane” geteiken word dat die party se diepgewortelde haat meer konsekwent uitgewys word. Die vroeëre legitimering van die EFF in die openbare sfeer word deur voormalige Openbare Beskermer en advokaat Thuli Madonsela se twitter-bydrae op 26 Julie 2019 geïllustreer. In ’n tweet het Madonsela gesê die EFF “verdiep en versterk grondwetlike demokrasie terwyl hulle ook die aandag vestig op maatskaplikegeregtigheidsimperatiewe.”
Die rigting wat die EFF inslaan, is dus vanselfsprekend ’n groter verrassing vir sekere mense as vir ander.
Diegene wat egter al langer die EFF sonder ’n ideologiese masker bestudeer, weet wat die party se ware kleure is.
Dit is ’n party wat daarop uit is om ’n rewolusionêre atmosfeer te skep deur haat te saai en verskillende samelewingsgroepe teen mekaar op te sweep, met die uiteindelike doel om Suid-Afrika te kaap. Gelukkig ontbloot die EFF se terreur-politiek sigself toenemend as ’n haatdraende fenomeen in die Suid-Afrikaanse politieke landskap.
Die ongemagtigde optrede wat verlede Woensdag plaasgevind het, is dus niks minder as ’n desperate poging tot aandagsoekery na aanleiding van die EFF se patetiese vertoning in die munisipale verkiesing van 2021 nie.
Malema en sy kornuite is besig om die EFF se graf te grawe en ’n mens kan nie anders as om ten aanskoue daarvan ’n gevoel van diepe Schadenfreude te ervaar nie.