Reaksies stroom steeds in na gisteraand se vergadering tussen president Cyril Ramaphosa en die VSA se president, Donald Trump in die Withuis.
Die EFF is op sy agtervoete ná dié vergadering.
Die party sê die vergadering was daarop gemik om sy leier, Julius Malema, te demoniseer en om grondhervorming te ondermyn.
Malema het net na gisteraand se vergadering op X geskryf dat Trump net oor wou “skinder”.
Dit volg nadat Trump video’s van Malema vertoon het waar hy die “Kill the Boer”-lied voor skares dreunsing. Die EFF beklemtoon dat die howe reeds beslis het dat die lied nie geweld aanhits nie. Trump wou herhaaldelik by Ramaphosa weet waarom Malema nog nie in hegtenis geneem is, vir die aanhitsing van geweld nie.
Die EFF het Ramaphosa se afvaardiging — wat onder meer die minister van landbou, John Steenhuisen asook Johann Rupert en Ernie Els ingesluit het – as wit bevoorregte elite beskryf.
LEES OOK: Solidariteit doen ‘n beroep op Ramaphosa om stappe aan te kondig om verhouding met VSA te herstel
Die leier van die VF Plus, dr Corné Mulder meen Suid-Afrika is gisteraand voor die oë van die wêreld as ‘n land van geweld met ‘n sukkelende ekonomie, inploffende infrastruktuur en algemene stagnering ontbloot.
Mulder het die gesprek tussen die twee presidente as “pynlik om te kyk” beskryf. Volgens hom het hy ‘n week gelede gewaarsku dat ‘n oorhaastige ontmoeting tussen Ramaphosa en Trump voortydig is.
Hy sê gisteraand se gesprek kon nie ‘n gewone gesprek wees tussen leiers soos ander lande die afgelope tyd met Trump gehad het nie.
Mulder meen Ramaphosa het die boodskap hard en duidelik gekry oor wat fout is in Suid-Afrika. “En van nou af sal die wêreld fyn dophou of daar ag geslaan word op die waarskuwings.”
LEES OOK: Johann Rupert en Ernie Els glo verantwoordelik vir Trump en Ramaphosa vergadering
Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi het intussen Ramaphosa en sy afvaardiging geluk gewens met wat hy as ‘n suksesvolle besoek beskryf.
Lesufi het ná ‘n vergadering by die hoofkantoor van Gautrain gesê dat die span in Amerika hulleself goed van hulle taak gekwyt het.
Hy het ook vlugtig na die G20-beraad verwys, en het ‘n beroep op die leiers van die nege provinsies gedoen om die nodige voorbereidings te tref voor die beraad in November in Suid-Afrika aangebied word.
♦️Must Watch♦️
Rupert praises Minister Ronald Lamola as someone who has “turned out well” — not for his principles, but for becoming a servant of white monopoly capital.
Lamola, once a Youth League activist fighting for black liberation, has sold out. His rise is not a success… pic.twitter.com/v5VsKUx11U
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) May 21, 2025
ANC WELCOMES PRESIDENT RAMAPHOSA’S STRATEGIC ENGAGEMENT WITH U.S. PRESIDENT DONALD TRUMP#RSAinUSA pic.twitter.com/admTXXxEZU
— ANC – African National Congress (@MYANC) May 22, 2025