20 Maart 2023
Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula sê die EFF se poging om die land tot ‘n stilstand te dwing het misluk.
Hy het in ‘n inskrywing op Twitter gesê dat die EFF se poging om mense te oortuig om by die huis te bly was sonder sukses, en daarom het die party nou oorgegaan na ‘n sogenaamde intimidasie taktiek.
Mbalula meen die EFF wil die langnaweek gebruik om dit te laat lyk asof die eendagstaking ‘n sukses was, terwyl baie mense vandag verlof geneem het by die werk omdat skole gesluit is.
Die EFF se Twitter-blad is egter doenig met talle foto’s van leë strate en toegesluite winkels. Hulle meen in die plasings dat die dag nie soos normaal voortgaan nie. Volgens ‘n verklaring deur die EFF-woordvoerder, Sinawo Thambo is die EFF tevrede met hoe die staking verloop.
Volgens Thambo is talle deelnemers aan die staking in hegtenis geneem, maar is sedertdien vrygelaat om hulle reg om te betoog, uit te oefen.
“Dit is nié ‘n gewone dag in Suid-Afrika nie. Taxi-staanplekke, inkopiesentrums en paaie is tot ‘n stilstand gebring, wat normaalweg baie besig sou wees.”
Hy meen die sukses van die staking tot dusver, dien as ‘n bewyse dat mense moeg is vir die kragkrisis, en dat hulle saamstem dat president Cyril Ramaphosa moet bedank.