Die adjunk-speaker van die Nasionale Vergadering, Annelie Lotriet, sê sy sal die LP’s van die EFF verkla oor minagting van die Huis oor hulle optrede tydens president Cyril Ramaphosa se vraag- en antwoordsessie gister.
Verskeie EFF-LP’s het voortgegaan om punte van orde te opper, en gevra dat Ramaphosa en sy adjunk, Paul Mashatile, se veiligheidsbeamptes nie in die huis toegelaat moet word nie.
Lotriet sê sy sal die saak na die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, verwys vir verdere stappe teen die EFF-LP’s.
Sy het LP’s na Reël 69 verwys en sê dit verwys baie spesifiek na die Wet op Magte en Voorregte.
Die ontwrigtings het gekom te midde van Ramaphosa se antwoord op ‘n vraag oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB). Hy het onder meer gesê dat hy nie kan verstaan waarom SEB blameer word vir die verval van die ekonomie nie.
In reaksie hierop het die VF Plus-leier, dr Corné Mulder gesê dat daar ná 31 jaar nog geen einde in sig is aan swart ekonomiese bemagtiging nie en meen Ramaphosa en die ANC kan steeds nie insien waarom ‘n party soos die VF Plus daarteen gekant is nie.
Mulder sê die antwoord van Ramaphosa op ‘n vraag van die VF Plus oor ekonomiese groeiplanne onder die RNE asook oor die gevolge van SEB, het dit duidelik gemaak dat hy steeds dink die ANC is ‘n party met ‘n tweederde-meerderheid wat kan doen wat hy wil.
Volgens hom het die rassebeleid van die ANC gelei tot ‘n werkloosheidskoers van 32% met ‘n optimistiese groeiverwagting van 1,4% vir vanjaar, 1,6% vir aanstaande jaar en 1,8% vir 2027.
Hy sê hierteenoor het Zambië ‘n huidige groeikoers van 6,2% en selfs Zimbabwe spog met 6%.
“Ná dekades onder ‘n ANC-regering het dit duidelik geraak dat SEB die deur oopmaak vir korrupsie en kaderverryking en lei tot verlaagde produktiwiteit en beleggingsverlies.”
Kyk die videos van die EFF se reaksie hier:
https://x.com/MDNnewss/status/1927401149298004459?t=iMDGsS4hl_2rkxT3gIab5A&s=19
https://x.com/EFFSouthAfrica/status/1927376774519759003?t=v49xJI74i6owHaFCWDMKZw&s=19
2 Responses
Die stoom van die ou bedeeling is veby, die realiteit gaan nou begin pos vat.
Daar sal nou regtig plan gemaak moet word om die sirkus hok te slaan in die Parlement. Keer terug na n “Dress Code” en streng reëls! Dis n absolute grap om heeltyd te luister na “honarable” dit&dat! Daar is geen eer&respek daar nie! As ek Honarable Lotriet was, het ek hul afgeskakel & uitgejaag of opgestaan en self uitgeloop het! “Her whiteness”! 🫣🫣