Nuuskommentaar: 13 September
Deur: Jacques Broodryk
Op 1 April 2021 het die direktoraat vir prioriteitsmisdaad, ook bekend as die Valke, 34 oud polisielede heraangestel om sogenaamde apartheidseramisdade te ondersoek. Die nasionale vervolgingsgesag het ook aangedui dat hy in die proses is om ’n eenheid op die been te bring om die tipe misdade te vervolg.
Dit behoort niemand meer te skok dat die ANC enigiets sal doen om steun te probeer behou nie maar die besluite het heel moontlik die laaste bietjie goedgesindheid wat van die party se ou teenstanders teenoor hom gehad het nou finaal in die kiem gesmoor.
Die slagspreuk lui; die geskiedenis word deur die oorwinnaars geskryf. Dit kom voor of die feit dat daar wreedaardige dade gepleeg is in die tyd van die wit minderheidsregering – aan alle kante van die politieke spektrum – ’n deel van die geskiedenis is wat die ANC probeer herskryf.
Dit sal naïef wees om te dink dat die beplande vervolgings ook sal fokus op lede van die ANC, hul militêre vleuel uMkhonto we Sizwe of enige ander van die party se bondgenote wat ook grudade gepleeg het.
Hierdie afleiding kan gemaak word aangesien daar tot op hede al verskeie lede van die voormalige veiligheidsmagte vervolg is, insluitend oudminister Adriaan Vlok, voormalige polisiekommissaris genl. Johan van der Merwe, dr. Wouter Basson, polisieklerk João Rodrigues en ander maar tot op hede is geen ANC-lid of alliansievennoot aangekla vir misdade uit die apartheidsera nie. Hou in gedagte dat die ANC deur ’n terreurveldtog doelbewus onskuldige mense geteiken het.
Dit word beraam dat die ANC se sogenaamde People’s War, tot die wreedaardige dood van meer as 15 000 mense gelei het.
Die bomaanvalle soos dié in Kerkstraat, Amanzimtoti, die Magoo’s Bar-bomaanval, en die aanval op die St. James Kerk is welbekend alhoewel dit nie modieus is vir die media om vandag daarna te verwys nie. Die name van duisende individue wat gesterf het ná die ANC sy teenstanders soos die IVP en beweerde polisie informante begin teiken het, is ook minder bekend.
Dit is juis die risiko wat die ANC nou loop.
Deur voort te gaan met hierdie vervolgings gaan swart Suid-Afrikaners ook weer herinner word aan hoeveel swart lewens die ANC op ’n brutale wyse geneem het. Die wit minderheid in die land het dalk nie vergeet van die ANC se dade nie, maar baie ander burgers het, of was nog nooit behoorlik ingelig oor die gebeure nie.
Die burgerregteorganisasie AfriForum het reeds aangedui dat hy bereid is om privaat vervolgings teen ANC-lede in te stel, sou die party voortgaan met hierdie vervolgings en dit eensydig gedoen word. AfriForum verkies wel dat die boek van die verlede gesluit moet word omdat die nadele verbonde aan hierdie vervolgings veel swaarder weeg as die voordele.
Dirk van Eck, wat sy vrou en twee van sy kinders in ’n landmynaanval verloor het, het in 2007 reeds gewaarsku dat die selektiewe vervolgings, alle Suid-Afrikaanse burgers se pogings om vooruit te beweeg ondermyn. Van Eck, wat daarin kon slaag om sy babaseuntjie uit die brandende motor te red, voor hy op die verminkte lyke van die res van sy gesin afgekom het, het gewaarsku dat die vervolgings net wantroue tussen burgers sal veroorsaak.
Die regering het destyds Van Eck se advies ter harte geneem maar dit lyk of hulle sy goeie raad vergeet het, net soos wat die party vergeet het dat die bloed van duisende ander op sy eie hande is.
Stem vir die Aitsa’s