16 April 2021
‘n Perd is in die strate van Bethulie gevind met erge saalsere en geswelde bene.
Volgens ‘n verklaring deur die Bloemfontein Dierebeskermingsvereniging is dié perd in hierdie toestand steeds gebruik. Die DBV sê hul is gekontak deur ‘n inwoner van Bethulie, wat die perd sien dwaal het.

Volgens die vereniging is die perd se eienaar of die persoon, wat op hom gery het onbekend. Die perd is na die DBV geneem vir die behandeling van sy wonde.
Dit is nié die eerste keer dat ‘n perd in ‘n soortgelyke toestand in Bethulie gevind word nie. In Mei 2019 is ‘n merrie ook in dié dorp gevind, wat erg uitgehonger was en wat ernstige saalsere op haar rug gehad het.
Die eienaar van dié perd was ook onbekend.
