1 Maart 2022
Borgtog is vandag aan die 67-jarige boer van Dundee, Garth Simpson, toegestaan nadat AfriForum se regspan Simpson met sy appèl ondersteun het.
Simpson word daarvan beskuldig dat hy die 17-jarige Qiniso Dlamini in September verlede jaar op sy plaas, Uithoek naby Glencoe doodgeskiet het. Die staat het vroeër aangevoer dat Simpson die seun koelbloedig vermoor het. ‘n Video van die voorval wys egter dat Dlamini tydens ‘n struweling met Garth geskiet is, en dat hy eers ‘n waarskuwingskoot afgevuur het.
LEES OOK: SAAK TEEN DUNDEE-BOER UITGESTEL TOT DESEMBER
AfriForum sê in ‘n verklaring hy is van mening dat Simpson uit selfverweer opgetree het en dat hy borgtog geweier is weens politieke inmenging in die saak.
Die organisasie het vroeër aangekondig dat hul Simpson met regshulp sal bystaan omdat dit lyk of Simpson ’n baie goeie verweer openbaar en moontlik suksesvol sal wees in sy verdediging.
LEES OOK: AFRIFORUM VERLEEN REGSHULP AAN DUNDEE-BOER
“Ons verwelkom die hof se besluit om Simpson se borgtog toe te staan. Hy is nie ’n bedreiging vir enigiemand nie, het geen kriminele rekord nie en het uit selfverweer opgetree. Howe moet besluite neem gebaseer op regsbeginsels en nie politiek nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se bestuurder vir Veldtogte.