25 Mei 2021
Die voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Dudu Myeni het nié opgedaag vir haar getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping nie.
Die voorsitter van die kommissie, adjunk-hoofregter Raymond Zondo het gevolglik ‘n bevel gemaak dat die kommissie ‘n strafregtelike klag teen Myeni by die polisie moet indien.
Myeni het op 5 November verlede jaar die nuus gehaal toe sy tydens haar getuienis voor die kommissie herhaaldelik die naam van ‘n getuie genoem het wie se identiteit deur die kommissie beskerm word.
Volgens vandag se getuienisleier, advokaat Kate Hofmeyr het Myeni ‘n dagvaarding, om vandag te getuig, geïgnoreer deur nie op te daag nie.
Myeni se regsverteenwoordiger, advokaat Nqabayethu Buthelezi het egter volgehou dat sy kliënt se versuim om op te daag nie kwaadwillig is nie en meen daar was ‘n misverstand oor haar dagvaardiging omdat dit glo na haar vorige regsverteenwoordiger gestuur is.
Volgens hom is sy op pad na ‘n familiebyeenkoms in Port Shepstone en nie seker wanneer sy sal kan getuig nie.
Zondo sê die feit dat Myeni nie opgedaag het nie is ‘n baie ernstige oortreding. Volgens hom het sy geen geldige rede waarom sy nie opgedaag het nie.