28 Junie 2022
Die familieboernetwerk, Saai sê hy is geskok en ontsteld oor die toestand van die Potchefstroom Landboukollege (Pampoenboere) se kampus en plaas en het ’n regspan geraadpleeg oor moontlike optrede om die kollege van ineenstorting te red.

Volgens Saai kla studente dat die instandhouding van die geboue en terrein so ver agter geraak het dat dit ’n onveilige omgewing skep. “Van die eens trotse, tradisieryke instelling wat beide topboere en landboutegniese adviseurs opgelei het, is daar geen spoor nie,” sê die uitvoerende hoof van Saai, Francois Rossouw.
Hy sê foto’s en verslae van diere wat vermaer is vanweë swak en verkeerde voeding, haglike krale, weiding waar rommel gestort word en dierewelsynspraktyke wat die Dierebeskermingsvereniging na hulle asem sal laat snak, staaf die studente se klagtes.
Saai is veral bekommerd oor die invloed van verwaarloosde fasiliteite op die gehalte van tersiêre landbou-opleiding.
“Dit sou al rampspoedig gewees het as die kampus leeg gestaan het, maar hier word nog studente opgelei,” sê Rossouw.