29 Julie 2021
Drie mense is in hegtenis geneem nadat hulle tydens gister se betogings in Benmore, Sandton na bewering ‘n veiligheidswag aangerand en met ‘n mes gesteek het.
Konstruksiewerkers het gister voor ‘n onvoltooide gebou in Benmore betoog glo weens salarisse. Die polisiewoordvoerder, kaptein Kay Makhubele sê een van die verdagtes is met ‘n gesteelde vuurwapen in sy besit, in Alexandra in hegtenis geneem. Ander twee verdagtes is in hegtenis geneem weens die beweerde aanranding van die wag.
LEES OOK: METROPOLISIE: VERMY BENMORE, SANDTON WEENS BETOGING
Makhubele sê die veiligheidswag is in die hospitaal opgeneem met ‘n steekwond in sy bors.
Die drie verdagtes sal na verwagting môre in die hof verskyn.
Intussen het die Johannesburgse-metropolisie se woordvoerder, Wayne Minnaar gesê dat ongeveer 500 werkers aan gister se betoging deelgeneem het. Strate rondom die gebou in Benmore was vir ‘n geruime tyd gesluit en die Benmore-inkopiesentrum het ook sy ingang in Benmore-straat gesluit as voorsorgmaatreël.
Volgens Minnaar is die beseerde veiligheidswag se beursie en diensvuurwapen ook gesteel.
Hou Afrikaans op die lug