21 Julie 2022
Drie senior amptenare van die nasionale departement van gesondheid is ná ‘n tugproses skuldig bevind vir hulle rol in die Digital Vibes-skandaal.
Die departement het ‘n kort ruk gelede in ‘n verklaring aangekondig dat die voormalige waarnemende direkteur-generaal, dr. Anban Pillay skuldig bevind is aan een van die vier aanklagte teen hom.
Die voormalige woordvoerder, Popo Maja is aan twee uit die vier aanklagte skuldig bevind, terwyl die personeelhoof Shireen Pardesi aan een uit twee aanklagte skuldig bevind is.
Die skuldigbevinding het te make met die toekenning van ‘n kommunikasie-kontrak deur die departement aan die KwaZulu-Natalse maatskappy, Digital Vibes.
Die drie is verlede jaar geskors hangende die ondersoek teen hulle. ‘n Onafhanklike raad, wat die voorval ondersoek het, het voorgestel dat Pillay ‘n finale skriftelike waarskuwing moet kry, wat vir 15 maande geldig is asook skorsing sonder ‘n salaris vir drie maande, waarna sy salaris ook vir ‘n jaar verminder moet word.
Die raad stel ‘n skriftelike waarskuwing, geldig vir 12 maande aan Maja voor asook ‘n salarisvermindering vir een jaar. Pardesi het aansoek gedoen om onmiddellik te bedank, wat deur die raad goedgekeur is.