17 Maart 2022
Drie mense is in hegtenis geneem nadat die standbeeld van generaal Louis Botha, wat voor die parlement in Kaapstad staan, gister deur EFF lede gevandaliseer is.

Die standbeeld is met rooi verf besmeer en ʼn deel van die bronswerk is afgebreek. Die polisiewoordvoerder, kolonel Athlenda Mathe sê die twee mans en ‘n vrou het met ‘n leer, kragopwekker en slypmasjien by die standbeeld opgedaag.
Die VF Plus het in ‘n verklaring gesê die vandalisering is onaanvaarbaar en dui op ‘n kultuur van wetteloosheid.
Die party sê net omdat ʼn individu of party nie van ʼn sekere gedeelte van die geskiedenis hou nie, gee hulle nie die reg om ʼn standbeeld of gedenkwaardigheid wat daardie geskiedenis uitbeeld te vernietig nie.