15 April 2021
Die diere-reddingsentrum, Wetnose gaan ‘n klag van dieremishandeling aanhangig maak nadat die polisie in Bronkhorspruit afgekom het op honde wat aan motors se onderstelle vasgeketting was en erg verwaarloos was.
Volgens Wetnose het die polisie hulle gekontak, waarna die inspekteur, Kobus Nel na die huis is om ondersoek in te stel.

Nel sê met sy aankoms het hy besef dat twee uit die drie honde met kettings vasgebind is.
‘n Haak, met ‘n ketting daaraan is deur een van die honde se nekvelle gesteek. Volgens Nel was die honde erg ondervoed en het geen skuiling of komberse gehad nie.
Die honde was glo in die erf om die talle motors en parte “op te pas.”
Hy sê Wetnose het die honde in hulle besit geneem en hulle Chance, Destiny en Hope gedoop. Die honde is tans in Wetnose se sorg en herstel goed. Nel sê sodra Wetnose die groen lig gee sal hierdie honde aangeneem kan word.