30 Junie 2023
Die liggame van twee vroue en ‘n man is Donderdag (29 Junie) by ‘n huis in Wilgehof, Bloemfontein, gevind op dieselfde perseel vanwaar die Byenes kleuterskool bedryf word.

Die polisiewoordvoerder, kaptein Loraine Earle, sê die huishulp het op die liggame afgekom van die 36-jarige Christo Theron, sy vrou die 35-jarige Janine en haar 65-jarige ma, Betsie Kruger.
Earle sê die polisie was Donderdag feitlik die hele dag op die toneel om dit vir leidrade te fynkam.
Die voorlopige ondersoek op die toneel het aangedui dat hulle vasgebind en verwurg is. Volgens Earle was Kruger die eienaar van die Byenes kleuterskool. Sy sê Kruger se 91-jarige ma, Aletta Becker was in die huis ten tyde van die moorde, maar het niks oorgekom nie.
‘n Onbekende bedrag kontant, ‘n skootrekenaar en persoonlike items word vermis. Ouers van die kinders, wat deur Kruger versorg word het net na 23:00 Woensdagaand ‘n WhatsApp-boodskap ontvang waarin hulle ingelig is dat kinders nie Donderdag skool toe kan gaan nie omdat die skool gesluit sou wees.
Die boodskap is in Engels gestuur, maar nie een van die drie slagoffers sou Engels praat nie.
