12 Mei 2021
Die minister van polisie, Bheki Cele het tydens ‘n dringende parlementêre debat in die parlement gesê die agterstand met die verwerking van DNS-monsters by die nasionale forensiese wetenskaplaboratoriums is onaanvaarbaar.
Volgens hom doen die Suid-Afrikaanse Polisiediens egter alles in sy vermoë om oplossings te vind.
Tydens dié debat – wat deur die DA aangevra is – het Cele verduidelik dat die agterstand die gevolg is van ‘n beleidsverandering aan die strategiese doelwitte van die nasionale tesourie in die 2019/2020 boekjaar.
Volgens die minister is daar tot op hede ‘n agterstand van tot 208 291 sake. By meer as 60 000 van dié sake is monsters al deur die laboratoriums ontvang maar nog nie ontleed nie.
Hy sê die agterstand is die ergste in Gauteng met 115% gevolg deur die Wes-Kaap met 113%.
Cele het beloof dat dinge binne 18 maande weer terug na normaal behoort te wees.
Intussen meen die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald dat die agterstand net erger kan raak.