14 Desember 2022
Die departement van gesondheid sê die tyd het aangebreek om die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering, die NGV, in werking te stel.
Volgens amptenare sal die omstrede wetsontwerp vroeg volgende jaar in die Parlement ter tafel gelê word.
Die voorlegging kom te midde van die departement se onvermoeë om die totale koste van dié stelsel weer te gee omdat – volgens die departement – dit in verskillende fases in werking gestel sal word.
Die adjunk-direkteur-generaal verantwoordelik vir die NGV in die gesondheidsdepartement, dokter Nicholas Crisp, sê die huidige gesondheidstelsel is ondoeltreffend wanneer uitkomste met insette vergelyk word.
Crisp sê die aantal mediese skemas sal waarskynlik met die implementering van die NGV mettertyd verminder, aangesien mediese skemas slegs voordele sal dek wat nie deur die NGV gedek word nie.
Hy beweer dat mediese sorg op die langtermyn goedkoper vir pasiënte sal wees omdat administrasiekoste verbonde aan mediese skemas verminder sal word.