Nuuskommentaar: 10 Januarie 2022
Deur: Francois Redelinghuys
Die afgelope twee jaar was vir die meeste Suid-Afrikaners om die minste te sê uiters uitdagend. Sedert die uitbreek van die Covid-19 pandemie was die wêreld op sy rug gekeer en was ons genoodsaak om onder stormagtige omstandighede uitkoms en oplossings te vind.
Moet geen fout maak nie, hoewel die uitbreek van die Koronavirus genoodsaak het dat daar met omsigtigheid omgegaan behoort te word weens die hartseer verlies aan lewens wat die virus tot gevolg het, is dit myns insiens die regering se reaksie op die virus wat Suid-Afrikaners se lewens en lewensmiddele omver gegooi het. Wie kan vergeet toe die verkoop van plakkies en gaar hoender onder die wette van die ramptoestand verbode verklaar is? En wie kan vergeet waar dit in ‘n stadium tydens sekere inperkings letterlik onwettig was vir iemand om te gaan werk te soek?
Vandeesweek is die nasionale ramptoestand al amper 22 maande van krag met die sperdatum vir die maandeliks hernuwing wat teen eerskomende Saterdag aanbreek. Toe die kabinet in Desember die ramptoestand verleng het, is daar weereens gestel dat die ramptoestand nodig is sodat die regering op kort kennisgewing kan ingryp om die pandemie onder bedwang te bring sou dit nodig wees. Die realiteit is egter dat ons waarskynlik verby die ergste tye van die pandemie is. Die ramptoestand word egter in plek gehou nie omdat dit nie afgeskaf behoort te word nie, maar omdat die beheer en mag wat dit aan die staat verleen net te gerieflik en lekker is. Dit herinner aan die ekonoom Milton Friedman wat eens gestel het dat niks so permanent is soos tydelike regeringsinmenging nie.
Tydens die afgelope feestyd is ons oorval met nuus wat daarop dui dat die staat besig is om teen ‘n snelle pas te verkrummel. Namate meer inligting oor die brand wat by die parlementsgebou uitgebreek het bekend word, het menigte skrywers al kommer uitgespreek oor die gereedheid, kapasiteit en vermoëns van die staat en by uitvloeisel die werking van die huidige bestel. Verder is daar met afwagting uitgesien na die verslag van die Zondo-kommissie rakende staatskaping terwyl daar groot twyfel heers oor of die Nasionale Vervolgingsgesag werklik die skuldenaars sal kan vervolg.
Weens die agteruitgang in beide die staat as ‘n geheel sowel as plaaslik op munisipale vlak is dit nie eens meer vreemd om te sien hoe plaaslike inwoners self inspring om basiese dienste en herstelwerk in hulle munisipale gebiede aan te bring nie. Die gemeenskap van Koster was verlede jaar een so ‘n voorbeeld. Vandeesweek het dit aan die lig gekom dat die gemeenskap van Koingnaas in die Noord-Kaap ook tot die besef gekom het dat hulle eerder self die slaggate in die paaie moet herstel en ander dienste sal moet lewer. Die plaaslike ANC-regering het nie was nie baie geneë hiervoor nie en het ‘n dringende interdik bekom om die weldoeners te stop.
Die ANC en die staat is duidelik baie lief vir beheer. Suid-Afrikaners het egter al lankal tot die besef gekom dat ons nie weens die staat ten bowe sal kom nie maar ten spyte daarvan. Die besef is al vir etlike jare dat die vermoë ontbreek en dat ons eerder self sal moet doen, regmaak en dienste lewer deur ons ondernemingsgees en veerkragtigheid anders sal dit nie gebeur nie in weerwil van al die mag wat die staat ook al homself toeëien.