Nuuskommentaar: 18 Augustus
Deur: Johnell van Vollenhoven
Glenvista High School in Johannesburg is aan die brand gesteek. Na bewering deur ʼn klomp leerlinge wat nie ʼn eksamen wou aflê nie. Tans blyk dit niks anders te wees as ʼn rebellie teen die onderwysstelsel wat die gesag van die skool uitdaag en ʼn eie wil met geweld en deur wanorde wil afdwing nie.
Sodanige optrede kan natuurlik nie geduld word nie. ʼn Kultuur van anargisme en geweld heers tans in Suid-Afrika. Aan die een kant is mense keelvol vir die staat se onvermoë en onbevoegdheid om die land te bestuur en voel hulle dat om die reg in eie hande te neem die enigste uitweg is en wat dan opsig self na wanorde lei. Aan die ander kant is daar sommige burgers wat geen behoefte het aan vooruitgang nie en gewelddadig aandring op regte en voorregte wat hulle kwansuis toekom sonder dat hulle die verantwoordelikheid wil aanvaar om ʼn daadwerklike bydrae te maak tot die ekonomie wat vooruitgang moet befonds.
Die gebeure by Glenvista blyk in ooreenstemming met laasgenoemde denkwyse te wees. Dit lyk ook baie naverwant aan die onlangse onluste wat KwaZulu-Natal en Gauteng geteister het. Dit is duidelik dat hierdie leerders ʼn totale minagting vir hul skool, medeleerders en hul eie toekoms en vooruitgang het. Gevolge vir hul dade, of wat die impak daarvan op ander betrokke partye is, word geensins in ag geneem nie. Daar word kortsigtig en impulsief opgetree en daar is geen vrees oor die implikasies van hul gedrag by hulle aanwesig nie.
Waarom nie? Wat skort? Die antwoord is eenvoudig: dissipline. Dissipline word deur gesag afgedwing met behulp van doeltreffende en konsekwente optrede deur die gesaghebbende wat toesien dat verantwoordelikheid ten alle tye vir optrede aanvaar word deur werklik en meetbare gevolge, goed of sleg, met optrede en gedrag te verbind. Jy hoef nie ʼn pedagoog of ʼn sielkundige te wees om te sien dat dit juis is wat in die Suid-Afrikaanse samelewing ontbreek nie. Daar is geen daadwerklike gevolge vir oortreders nie. Hulle word met handskoene aan hanteer en menigmaal is dit eerder die gesag wat as die verkeerde party uitgekryt word wanneer daar gepoog word om teen skuldiges op te tree.
Die situasie word natuurlik vererger deur politici en kaderontplooiing wat tot gevolg het dat derduisende kriminele skotvry daarvan afkom en steeds as helde opgehemel en beskerm word, eerder as wat hulle aan die pen ry vir die skade wat hulle die land berokken.
Dit is nie net Glenvista se saal wat brand nie. Dit is nie net bande en vragmotors en geboue nie. Dit is die land. Dit is die regering onvermoë om vooruit te gaan en te wil groei. Dit is sy gesagstrukture en sy onderwysstelsel en sy ministeries wat gebuk gaan onder onbevoegde leierskap.
Tog is hoop nie verlore nie. Met geordende gemeenskapstrukture wat bou, veilig hou en bewaar en daadwerklike optrede van die staat, sal dié kultuur van verwoesting verander. As daar gevolge vir dade is en mense gedwing word om verantwoordelikheid te aanvaar, sal hulle twee keer dink voordat hulle brand of breek. Deur die mag aan skole terug te gee sodat hulle gesag kan afdwing en orde kan handhaaf, sal dissipline weer aan die orde van die dag wees. Kinders sal leer. Hulle sal werk en uiteindelik sal hulle hulself uit hierdie bose kringloop presteer.
Hou Afrikaans op die lug