Deur: Esmarie Yssel
Graham Bentley het in 2018 – op die 100ste herdenking van die einde van die Eerste Wêreldoorlog – ’n emosionele gedig as huldeblyk aan diereoorlogshelde geskryf. Hy skryf onder meer:
We bleed and we die, we bark, neigh and cry
Our kin beside men in the mud and sand lie
Our number are millions in all of the wars
We march not on two feet but on four hooves and paws
In Suid-Afrika is menige dierelewens in oorloë en militêre operasies op die spel geplaas.
Op Sondag 30 Maart is ’n Diere in Oorlog-gedenkmuur by die Voortrekkermonument onthul.
Dis die veteraan Roché Vermaak se droom wat verwesenlik is. Vermaak het onder meer tussen 1979 en 1981 diens gedoen in die Valskermbataljon, en hy was tussen 1981 en 1990 ’n lid van die polisie se honde-eenheid.
Hy het tydens die onthulling van die muur diere wat in oorlogsituasies gebruik is, as die onbesonge helde van die slagveld beskryf.
Perde, honde, katte, duiwe, ’n bobbejaan en ’n springbok het in verskeie oorloë dapper saam met soldate diens gedoen.
Vermaak het aan homself ’n belofte gemaak om ’n gedenkmuur te laat oprig ná die verlies van sy twee hartshonde, Shep en Markus.
“Honde was nog altyd deel van my wese, en in donker tye was hulle altyd daar vir my en ander veterane. Ek het in 1987 my polisiehond, Shep, verloor en vir Markus, wat die amptelike Ambassadeur vir Diere was, twee jaar gelede. Ek het myself al in 1987 belowe dat honde soos Shep nie vergeet sal word nie, en dat ek sal toesien dat hulle op een of ander wyse vereer sal word. Ná die Bosoorlog (1966-1989) is baie gedenkmure vir soldate opgerig, maar geen vir die diere wat gely het en dood is nie. My belofte het my al hoe meer aangespoor, en ek het veterane van alle magte betrek, soos Ou Rhodesië en die Portugese K9- en berede eenhede. Ons het in 2024 met die gedenkmuur begin en nou is dit ’n werklikheid,” vertel Vermaak.
“Die muur is hier om te verseker dat mense die groot rol huldig wat die edele diere in die oorlog gespeel het, en dat hulle besef dat die diere nie ’n keuse gehad het nie. Dit moet ook by die jonger geslag insink watter verskriklike impak oorlog op diere het. Ons is hulle stemme.”
Die muur is enig in sy soort in Suid-Afrika en word heel gepas van al twee kante af bewaak deur twee bronsbeelde: ’n Duitse Herdershond en ’n oorlogsperd, getiteld Die Onbekende Hond en Die Onbekende Perd, ter nagedagtenis aan al die operasionele honde en perde gedurende die grensoorlog.
Jaco van Niekerk, die beeldhouer van Hartbeespoort wat verantwoordelik is vir die beelde, sê dit was ’n groot uitdaging om die lewensgrootte hond en perd te maak.
“Die hond is ’n ewebeeld van Wolfi, Roché Vermaak se gidshond. Ek het van foto’s af gewerk om hom akkuraat uit te beeld. Die perd was … wel, ’n perd van ’n ander kleur. Ek moes na die perde op die Voortrekkermonumentterrein gaan kyk en het ‘n legio foto’s as verwysing gebruik, want dis ’n tipiese boerperd en ek moes die mates perfek kry,” het Van Niekerk aan Nuusweek gesê.
Van Niekerk sê die perdbeeld is geskoei op een van die Suid-Afrikaanse Weermag se berede-eenheidperde met ’n McClellan-saal en groot sakke.
“Ek het die perd staties gemaak, in afwagting op bevele. Getroue kameraad tot die dood. Ons as Afrikaners het ’n spesiale band met ons diere. Ek’s geëerd om ’n bydrae te lewer tot die huldiging van die diere wat ons gedien het in konflikte in Afrika. Hulle sal nooit vergete wees nie. Soos ons mensemakkers se name op die Muur van Herinnering, neem die diere ook nou hul regmatige plek in. Hulle het ook gedien en ons roep hulle in herinnering.”
Tydens Operasie Savannah – wat laat in 1975 in Angola begin het en in Maart 1976 beëindig is – het skutter Adam Schonveldt en sy spoorsnyerhond, Rinty, gesneuwel.
Suid-Afrika se meer ongewone gelukbringers het onder meer ’n springbok genaamd Nancy ingesluit. Nancy is die enigste dier in die militêre geskiedenis wat met volle militêre eerbewys in ’n Geallieerde begraafplaas begrawe is. Nancy was die gelukbringer van die 4de Suid-Afrikaanse Infanterieregiment, en is tydens die strawwe winter van 1918 aan longontsteking in België dood.
’n Ander gelukbringer van die 3de Transvaalse Regiment was ’n bobbejaan genaamd Jackie. Jackie was oral saam met die soldate wat tydens die Eerste Wêreldoorlog in die loopgrawe van Frankryk gedien het. Jackie is van ’n uniform, kompleet met knope en regimentskentekens, ’n pet, ’n betaalboek en sy eie stel rantsoene voorsien.
Tydens die onthullingsgeleentheid by die Voortrekkermonumentterrein is kranse gelê deur verskeie veterane-organisasies, asook die Tshwane Metro, die DBV in Pretoria en die Erfenisstigting, wat instrumenteel in die oprigting van die gedenkteken was.
Daar is ook ’n nuwe banier geplaas vir die Diere in Oorlog-veteraneorganisasie.
Die Dickin-medalje vir Dapperheid vir diere is in 1943 deur Maria Dickin in die Verenigde Koninkryk ingestel. Dié bronsmedalje aan ’n lint met ’n ligblou, bruin en groen strepie, is sedertdien aan sowat 75 diere toegeken.
Die Diere in Oorlog-gedenkmuur word as lewende monument bestuur en sal later ander diere, soos Nancy die Springbok en Jackie die Bobbejaan, se name insluit.
Die publiek word aangemoedig om nie net die muur te besoek nie, maar om die name van honde, perde en ander diere wat vereer moet word, by die muur te help voeg.
One Response
Ek was skoon aangedaan toe ek hierdie op radio gehoor het. In die dae word straatname verander vir sommige onbesonne redes, maar is hierdie ‘n saak wat vir my heeltemal sin maak.