1 Oktober 2021
Dienslewering in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit is gister tot stilstand geruk nadat Eskom beslag gelê het op ʼn lopende bankrekening wat aan die munisipaliteit behoort.
Die VF Plus se raadslid in die munisipaliteit, Gerda Senekal sê Eskom het tot dié stap oorgegaan nadat die munisipaliteit versuim het om die kragvoorsiener te betaal. Volgens haar staan padskrapers en munisipale voertuie nou langs die pad geparkeer weens ʼn tekort aan brandstof.
Emfuleni het sedert ʼn hofuitspraak op 2 September vanjaar in Eskom se guns, nog nie sy terugbetalingsooreenkoms met die kragverskaffer eerbiedig nie. “Die hof het ʼn summiere vonnis van R1,3-miljard teen die munisipaliteit toegestaan.”
Senekal sê die bedrag is deel van Emfuleni se historiese skuld van R1,9 miljard wat sedert 2019 opgehoop het. In totaal beloop die munisipaliteit se skuldlas aan Eskom meer as R3,5-miljard. Volgens haar is hierdie die derde poging van Eskom om Emfuleni te dwing om sy uitstaande skuld te betaal of net ʼn betalingsooreenkoms te eerbiedig.
“Die Emfuleni-munisipaliteit se langdurige finansiële wanbestuur het ook tot gevolg dat krediteure nie aan die einde van die maand betaal gaan word nie en baie gedwing sal word om hul dienste aan die munisipaliteit te stop,” sluit Senekal af.
Stem vir die Aitsa’s