Nuuskommentaar: 16 November 2021
Deur: Jaco kleynhans
In Desember 2019 is die Nobelprys vir Vrede aan die Eerste Minister van Ethiopië Abij Ahmed toegeken nadat hy vrede gesluit het met Eritrea en die jarelange konflik tussen dié twee lande daardeur klaarblyklik tot ‘n einde gekom het. In dieselfde jaar het die Amerikaanse Brookings Institute gesê dat Ethiopië een van die lande in Afrika is wat die grootste vordering met demokrasie maak. Ethiopië en Eerste Minister Ahmed is as voorbeelde van wat in Afrika moontlik is, voorgehou.
Vandag byna twee jaar later is Ethiopië besig om in ‘n burgeroorlog te verval. Sedert ‘n rebellie in die Tigray-streek in die noorde van die land verlede jaar in November met geweld deur die federale regering van Ethiopië onderdruk is, moes twee miljoen mense reeds vlug en ervaar minstens 400 000 mense tans voedseltekorte. Verskeie rebellegroepe werk tans saam om die federale regering in Addis Abeba uit die kussings te lig en indien ‘n skietstilstandooreenkoms nie binnekort bereik word nie kan dit tot ‘n volskaalse burgeroorlog aanleiding gee.
Die afgelope twaalf maande het Eritrea, met wie daar in 2019 vrede gesluit is, direk by die konflik in Ethiopië betrokke geraak. Dit raak duidelik dat Ahmed se besluit om in 2019 met Eritrea ‘n vredesooreenkoms aan te gaan ‘n politieke skuif teen die Tigray-minderheid in die noorde van Ethiopië, eerder as ‘n eerbare vredesdaad was. Hierdie gebeure maak van die toekenning van ‘n Nobel Vredesprys aan Ahmed ‘n grap.
Die Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, is hierdie week op besoek aan drie Afrika-lande in ‘n poging om ‘n oplossing vir die konflik in Ethiopië te probeer vind. Die gerespekteerde voormalige Nigeriese president Olusegun Obasanjo is deur die Afrika Unie opdrag gegee om ‘n skikking tussen die strydende partye te probeer onderhandel. Sou Ethiopië oor die volgende dae volledig in chaos verval, sal dit ‘n groot terugslag vir Oos-Afrika wees, maar sal dit nog ‘n vernederende terugslag vir die VSA en ander lande wees wat hulle hoop op ‘n stabiele streek op die demokratisering van Ethiopië geplaas het.
Die afgelope jaar of twee was nie goed vir demokrasie in Afrika nie. Terwyl verskeie militêre staatsgrepe reeds vanjaar in Afrikalande soos Mali, Guinee en Soedan uitgevoer is, versterk outokratiese leiers in verskeie lande hulle magsgreep. In Oos-Afrika, en in besonder in die Horing van Afrika, is die meeste lande tans in burgeroorloë of politieke konflik gewikkel.
Daar is verskeie redes waarom Ethiopië belangrik is. Ethiopië huisves die Afrika Unie en verskeie internasionale agentskappe en organisasies en kan ‘n belangrike rol in die stabiliteit van die hele streek speel.
Dié land het egter ‘n geskiedenis van etniese konflik en die federale bedeling wat 25 jaar gelede daar ingestel is, was veronderstel om ‘n balans tussen etniese groepe te skep deurdat die tien grootste etniese groepe elkeen ‘n federale deelstaat met heelwat mag gekry het. Die model in Ethiopië kan as ‘n voorbeeld vir ander multi-etniese Afrikalande dien, maar dit veronderstel wel ‘n mate van samewerking en vertroue tussen etniese gemeenskappe.
Dit is juis hierdie vertroue en samewerking wat deur Ahmed en sy regering in Ethiopië geskaad is en wat tot die huidige konflik bydra. In die soeke na politieke oplossings vir etniese geskille in Afrika is dit noodsaaklik dat die konflik in Ethiopië bygelê moet word.
Stem vir die Aitsa’s