Nuuskommentaar: 26 Mei 2022
Deur: Dr. Hercules Boshoff
Met die pandemie en die oorlog wat oor die laaste ruk gewoed het, is die aandag afgelei van die diskoerse wat ons instellings, veral in die onderrigsektor aangedryf het oor die afgelope dekade. Ek verwys hier na die dekoloniserings diskoers. Allermins moet ons onder die indruk verkeer dat dit gou gaan verdwyn.
In die hart van die diskoers le ʼn versugting enersyds na ʼn verromantiseerde verlede, ʼn paradys wat weer herstel moet word, terwyl kolonisering en moderniteit andersyds as verkorruptering van ʼn outentieke bestaan geskilder word. Die twee aspekte word in ʼn spanning gehou: die voormoderne bestaan word verromantiseer as teenpool teen die geweld wat met kolonisering gepaard gegaan het terwyl die moderniseringsproses as boosaardig in sy aard opgeneem word, beskou vanuit die oorspronklike vreedsame bestaan van die mens.
Daar vind derhalwe ʼn inversie plaas: vordering, wat normaalweg positief gereken word, is afkeurenswaardig en hunkering na die verlede is goed. Hierdie idee kom van die Franse denker, Jean-Jacques Rousseau af, wat gesê het dat die mens vry gebore is en tog oral in kettings gebonde is, en aan wie die sogenaamde edel-barbaar begrip van die mens toegedig word.
Die hunkering na die oorspronklike toestand van die mens bly egter slegs dit, ʼn hunkering. Ten minste in Europa en die V.S.A is dit die geval. Die instellings daar kan die aanslag van die diskoerse absorbeer, en daarom word die diskoerse bevorder met minimale effek op die infrastruktuur en voortbestaan van die instellings, terwyl die relevansie en aansien van hierdie instellings juis deur die bevordering van die dekoloniserings diskoerse sterk bly. Die instellings hier in Afrika het egter ʼn slegte knou gekry as ʼn direkte gevolg van kritieklose omgang met dekolonisering, dermate dat standaarde ver benede peil geval het. Dit is ironies, tragies en veelseggend dat die Westerse universiteite baat by die oorheersing van dekolonisering terwyl die voormalige koloniale universiteite steier.
Die dekoloniserings diskoers is gekant teen die toe-eiening van beskawingsprestasies van die Weste, wat veeleerder beskawingslesse van die Weste genoem kan word, terwyl vordering op tegniese gebied konstant verdag gemaak word. Die onvermoë om te vereenselwig met die goeie het nog geen beskawing tot voordeel gestrek nie. Die verhaal van menslike beskawing is ʼn verhaal van leergierigheid, van die gewilligheid om afstand te doen van gebruike en praktyke wat ontoereikend is om ʼn doel te bereik. Die Weste en ander invloedryke beskawings het, ten spyte van vergrype en selfingenomendheid, oor die vermoë beskik om aan te leer, aan te pas en te verbeter. Die vrugte van modernisering kan nie sonder die gepaardgaande praktyke gepluk word nie. Met ander woorde: moderne instellings sal nie rondom die voormoderne leefwyse kan funksioneer nie. In die lied Revolution verskaf die Beatles ʼn goeie oplossing wat na die afloop van dekades steeds relevant is:
You say you’ll change the constitution
Well, you know
We’d all love to change your head
You tell me it’s the institution
Well, you know
You better free your mind instead