Die VF Plus in die Tshwane-metro sê hy verwerp dié raad se konsepbegroting vir die 2025/26-boekjaar.
Volgens die VF Plus-raadslid, Grandi Theunissen sal dié begroting daarvoor sorg dat inwoners met buitensporige belasting, onregverdige heffings en twyfelagtige finansiële praktyke belas word.
Theunissen sê die begroting fokus op inkomste, en ignoreer etiese regering asook ekonomiese realiteite.
Volgens hom druis onregverdige eiendomswaardasies, omstrede stedelike skoonmaakheffings, infrastruktuurverval, diensleweringsgebreke, die metro se verkrygingsbeleid van SEB en oormatige uitgawes teen die VF Plus se waardes in.
Hy sê die algemene eiendomswaardasierol het gelei tot gemiddelde waardeverhogings van 24.17% op eiendomme wat belastingverpligtinge aansienlik verhoog. Volgens Theunissen het metro aangevoer dat hy die impak verminder het deur die tarief met 4% te verlaag en die drumpelwaarde van R150,000 tot R250,000 te verhoog, maar dit bied geen werklike verligting nie.
Hy sê verder terwyl die metro belasting verhoog en nuwe heffings oplê, verval die metro se infrastruktuur. “Paaie en waterpype is in ʼn haglike toestand en kragnetwerke faal herhaaldelik.”