Nuuskommentaar: 31 Oktober 2023
Deur: Jaco Kleynhans
Verlede week se gebeure by die Verenigde Nasies (VN) in New York het bevestig dat dié organisasie baie vinnig besig is om sy vermoë te verloor om lande van reg oor die wêreld bymekaar te bring ten einde globale konflik op te los of te voorkom. Die VN se Algemene Vergadering en Veiligheidsraad is albei toenemend besig om bloot die speelveld van moondhede, wat meeding om globale mag en invloed, te raak.
Die gesaghebbende Amerikaanse dagblad, The Wall Street Journal, het verlede week in sy redaksionele kommentaar so ver gegaan om die gedrag van die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, as skandelik af te maak. Dié koerant gaan verder deur te sê dat daar nie meer op die VN gereken kan word om globale vrede te bewaar nie.
Die huidige verdeeldheid binne die VN gaan natuurlik oor die konflik tussen Israel en die Hamas-terreurgroep in die Gasa-strook. Verskeie pogings om standpunt oor die konflik in te neem het verlede week in die Veiligheidsraad misluk met Rusland en die VSA wat hulle vetoreg gebruik het.
In die VN se Algemene Vergadering, waar 193 lidlande elk ʼn stem sonder ʼn vetoreg het, het dinge egter anders uitgespeel. ʼn Resolusie wat vra vir ʼn onmiddellike en volhoubare humanitêre wapenstilstand tussen Israel en Hamas en wat onverhinderde hulptoegang tot die beleërde Gasa-strook eis, is met 120 stemme in die Algemene Vergadering aanvaar.
Gilad Erdan, Israel se ambassadeur by die VN, het ná die stemming gesê dat dit ʼn skande is en dat die VN nie meer ʼn greintjie legitimiteit of relevansie oor het nie. Erdan se woedende reaksie is natuurlik omdat die resolusie wat aanvaar is geensins Israel se reg om homself te verdedig, erken nie.
Dit is duidelik dat die resolusie, wat deur Jordanië opgestel is, só verwoord is dat dit ʼn meerderheid lande uit Asië, die Midde-Ooste en Afrika kon verenig in ʼn stemming wat geen bindende gevolge inhou nie, maar wat as ʼn oorwinning oor Israel en Israel se bondgenote beskou kan word.
Amerika se ambassadeur by die VN, die ervare diplomaat Linda Thomas-Greenfield, was korrek in haar reaksie dat die resolusie net Hamas sal beskerm deurdat enige skietstilstandooreenkoms wat nie ʼn einde aan Hamas se regering in Gasa insluit nie, dié groep net die geleentheid sal gee om vir ʼn volgende aanval op Israel te herbewapen.
Verlede week se gebeure by die VN was ʼn duidelike weerspieëling van die huidige globale magsverhoudinge. Die meeste lande uit Asië, die Midde-Ooste en Afrika verenig in ʼn front teen die Weste. Westerse leiers is verdeeld en verswak en die VN misluk in sy poging om te bemiddel.
Vrede tussen Israel en die Palestyne is nie onmoontlik nie. Dit is egter net moontlik sonder Palestynse terreuraanvalle en met ʼn Israeliese regering wat weer soos twee of drie dekades gelede bereid is om groot toegewings te maak. Die VN is lankal nie meer die liggaam wat sodanige toegewings en skikkings kan help afdwing nie.
Met oorloë in onder meer Oekraïne, Gasa, Jemen en Soedan wat voortwoed en China wat steeds meer dreigend teenoor Taiwan, Indië, Nepal en die Filippyne optree, is leierskap wat populistiese VN-resolusies verwerp en langtermynoplossings vir vrede ontwikkel nou nodig. Die VN raak egter ʼn uitgediende organisasie en dit maak die wêreld ‘n minder veilige plek.