Nuuskommentaar: 23 November 2022
Deur: René van der Vyver
Wat tans by die Universiteit Stellenbosch (US) aan die gang is, is skokkend. Die Khampepe-kommissie van ondersoek het na aantygings van rassisme by die US die sogenaamde Khampepe-verslag saamgestel met aanbevelings wat volgens my verregaande is. Dit sluit onder meer die volgende in:
- ’n Verpligte module oor transformasie en rassisme vir eerstejaars.
- Verpligte opleiding oor diskriminasie en transformasie vir studenteleiers en personeel.
- ’n Transformasiehandves moet deur belanghebbendes opgestel word.
- Die taalbeleid moet hersien word sodat die voorkeur vir Afrikaans nie ander uitsluit nie, terwyl Engels as voorkeurtaal gebruik moet word om inklusiwiteit te fasiliteer.
Behalwe vir die feit dat die US al meer as ’n 100 jaar oud is en hoë hoogtes bereik het, wat nou net uitgejou word as ’n sogenaamde “rassistiese erfenis”, is daar ook ander aspekte wat ’n mens kan ontstel.
Eerstens:
In Hermann Giliomee se boek, Die Afrikaners, het ek ’n paar jaar gelede raakgelees dat die US se bestaan eintlik te danke is aan ’n skenking van Johannes Henoch Marais. Hierdie skenking is baie belangrik, want dit is gemaak op die voorwaarde dat Afrikaans nooit in ’n mindere mate as Engels by die US gebruik sal word nie. Marais se nalatenskap van £100 000 (R200 000) het die stigting van die Universiteit van Stellenbosch in 1918 moontlik gemaak – die eerste Afrikaanse universiteit in Suid-Afrika.
Tweedens:
Verbeel jouself dat Kentucky Fried Chicken (KFC), wat vleisprodukte as wegneemetes bemark, vandag ’n kennisgewingbord opsit om die vereiste in te stel dat 80% van hul kliënte veganiste moet wees. ’n Maand later vergader KFC se topbestuur en besluit, omdat slegs 20% van hul kliënte vleisprodukte verlang, daar nie ’n behoefte daarvoor is nie en daarom kan vleisprodukte van hul spyskaart verwyder word. Dit is die fout wat die US tans maak. Hulle reis na ander provinsies en internasionaal om Engelse studente te werf en skep dan ’n valse werklikheid dat die meerderheid van die US-studente nie Afrikaans is nie, terwyl die oorgrote meerderheid van die Wes-Kaap se bevolking Afrikaanssprekend is.
Laastens (vir vandag):
Prof. Jonathan Jansen voer aan dat Afrikaans ’n strydbyl in Afrikaners se hand is om wit dominansie te bevorder. My vrae aan hom sal wees: “Hoekom moet daar daagliks nuwe diskriminerende beleide en regulasies opgestel word om ’n minderheidsgroep te onderdruk en uit te sluit? En waar lê die fout dan?” In ander lande word minderheidsgroepe beskerm, maar in Suid-Afrika word die minderheidsgroep van Afrikaners, wat ’n skrale 7% van die Suid-Afrikaanse bevolking uitmaak, in die politiese narratief voorgehou as die onderdrukkers. Die demografiese weerspieëling van Suid-Afrika se bevolking word op elke denkbare terrein afgedwing tot so ’n mate dat dié minderheidsgroep orals en altyd die minderheidsgroep moet wees, asof daar ’n gevaar bestaan vir wanneer ons wel eendag gelyke geleenthede mag hê.
Die Khampepe-verslag sê dat swart studente en personeel onwelkom en uitgesluit by die US voel, maar dit is Afrikaanse studente vir wie daar tans gesê word dat hulle en hul taal nie hier welkom is nie. Die verslag, met sy fokus op individuele gevalle van klaarblyklike rassisme, ruk dinge uit verband en die US moet oppas vir nog ’n Vishoek-geval.