Nuuskommentaar: 23 Maart 2023
Deur: Jaco Kleynhans
Verlede week se provinsiale verkiesing in Nederland het vir ʼn opskudding gesorg. Die BoerBurgerBeweging (BBB), ʼn politieke party wat net meer as drie jaar gelede gestig is en wat uitgesproke ten gunste van die belange van plattelandse kiesers is, het in elkeen van Nederland se 12 provinsies in die eerste plek geëindig. Die party is uit protes teen die politieke elite in Nederland gebore en verlede Woensdag het meer as een miljoen Nederlandse kiesers vir ʼn politieke opskudding gesorg deur dié nuwe protesparty die grootste party in Nederland te maak.
Die uitslag van die verkiesing in Nederland kan vergelyk word met Donald Trump se verkiesing as Amerikaanse president in 2016 en die Britte se besluit, ook in 2016, om uit die Europese Unie (EU) te tree. Verlede jaar se verkiesings in Italië en Swede is nog goeie voorbeelde van hierdie patroon. In elkeen van hierdie verkiesings is die uitslag oorheers deur ʼn groot deel van die kieserskorps wat uit moedeloosheid, vervreemding van die politieke elite of bloot net uit teleurstelling en woede protesstemme uitgebring het.
Die kiesers wat verlede Woensdag vir die BoerBurgerBeweging gestem het, het in die verlede vir ʼn groot verskeidenheid ander partye gestem. Tog is die goue draad wat hierdie kiesers saambind hul afkeer van die politieke elite in Den Haag en hul gevoel dat beleid nie meer deur die kiesers bepaal word nie, maar wel deur instellings soos die EU, verskillende agentskappe van die Verenigde Nasies (VN) en ʼn kartel van regeringspartye wat bloot aan die politieke mag vasklou.
Dieselfde patroon was ook in 2016 in die VSA en Brittanje duidelik. Donald Trump is deur kiesers verkies waarvan ʼn wesenlike persentasie nie voorheen gereelde kiesers was nie en ʼn ander wesenlike deel wat voorheen vir die Demokrate gestem het, maar wat uit protes besluit het om hul kruisies vir Trump te trek. In Brittanje het ʼn meerderheid van kiesers ten gunste van die Verenigde Koninkryk se onttrekking uit die EU gestem uit frustrasie met reëls en regulasies wat deur die EU op sy lidlande afgedwing word.
In al hierdie gevalle het die protesstem veral uit die platteland en uit landelike dorpe en kleiner stede gekom. Die kiesers van die BoerBurgerBeweging in Nederland, Trump in die VSA en die pro-Brexit-stem in Brittanje is almal hoofsaaklik landelike, anti-globalistiese kiesers wat voel dat hul eie regerings nie meer in hul belang optree nie.
Die skeiding tussen die stedelike globalistiese elite en die landelike meer tradisionele kiesers raak groter in elke land in die Weste. Later vanjaar sal ons dit ook in verkiesings in Spanje en Nieu-Seeland sien afspeel en volgende jaar in Oostenryk en België.
Daar is die afgelope paar dae groot betogings in Frankryk waar ʼn breë beweging van linkse en regse Franse saam in opstand kom teen wat hulle beskou as die politieke elite se beleid wat gewone Franse nadelig raak.
Dit is duidelik dat die globalistiese elite in Den Haag, Washington DC, Parys, Berlyn en veral in die wandelgange van die EU in Brussel alles moontlik sal doen om die mag te behou. Die gevolg hiervan is egter die ontwikkeling van ʼn breë protesbeweging in die meeste Westerse lande wat oor die volgende paar jaar tot wesenlike druk op die politieke elite gaan lei.
Foto: Jaco Kleynhans