Soggens met Sarina

Maandae tot Vrydae
10:00 - 12:00

Luister nou

Volgende

Die Suid-Tirool-model moet globaal meer aandag kry

Deur: Jaco Kleynhans

Kort ná die uitbreek van konflik in die oostelike Donbas-streek van Oekraïne in 2014, het die toenmalige Italiaanse minister van buitelandse sake, Paolo Gentiloni, tydens ’n besoek aan die VSA aan die administrasie van Barack Obama voorgestel dat daar in die soeke na ’n oplossing vir die vraagstuk oor hoe om die Russiese bevolking in die ooste van Oekraïne te akkommodeer, gekyk moet word na die outonomie-ooreenkoms tussen Italië en Oostenryk, wat ’n groot mate van outonomie aan Suid-Tirool in die verre noorde van Italië verleen, sonder om die soewereiniteit van Italië aan te tas.

 

 

 

Voorstelle tydens die onderhandelinge in September 2014 en aan die begin van 2025 wat tot die ondertekening van die Minsk I- en Minsk II-ooreenkomste gelei het, het ook op die Suid-Tirool-model gefokus met onder andere Frank-Walter Steinmeier, toe nog Duitsland se minister van buitelandse sake, wat daarna verwys het. Leiers uit Italië en Suid-Tirool het na Oekraïne en Rusland gereis om hierdie model te bespreek.

 

 

 

Die res is geskiedenis. Die implementering van die Minsk-ooreenkomste het misluk, met Rusland wat uiteindelik in Februarie 2022 ’n volskaalse militêre inval in Oekraïne aangekondig het, juis met die beweerde doel om Russiese minderhede in die Donbas-streek in hulle stryd teen die sentrale regering in Kiëf by te staan.

 

 

 

Een van die groot historiese globale uitdagings is dié van grense en nasionale state wat nie altyd in diens staan van al die mense wat in daardie state woon nie. Hierdie probleem kom op die meeste kontinente voor en het verskillende historiese oorspronge. Dikwels is dit die gevolg van na-oorlogse grense, oorblyfsels van koloniale grense of skikkings wat tussen nasionale state bereik is sonder om die belange van alle volkere wat daar woon, in ag te neem.

 

 

 

In Europa woon daar 750 miljoen mense – 70 verskillende volkere in 36 lande. ’n Land soos Switserland het minstens vier duidelik verskillende volkere binne sy grense. So is daar ook Karintië in Oostenryk, die Duitse gemeenskap in Oos-België, die outonome gemeenskappe van die Katalane, Baske en Galisiërs in Spanje, en duisende Dene in Sleeswyk-Holstein in die noordweste van Duitsland. In Roemenië woon ’n Hongaarse minderheid van meer as een miljoen mense. Daar is ook Hongaarse minderhede in Serwië, Oekraïne en Slowakye – alles oorblyfsels van die na-oorlogse skikking ná die Eerste Wêreldoorlog.

 

 

 

Ná die Eerste Wêreldoorlog is die Oostenryk-Hongaarse Ryk opgebreek. In ’n redelik onderduimse ooreenkoms wat reeds voor die einde van die oorlog tussen Italië en Engeland aangegaan is, is die Oostenrykse provinsie Suid-Tirool ná die oorlog aan Italië gegee. Tirolers van Oostenrykse en Beierse herkoms, wat eeue lank in die gebied gewoon het en geen Italiaanse identiteit gehad het of Italiaans kon praat nie, was skielik burgers van Italië.

 

 

 

Ná dekades van onderhandelinge, stryd, selfs geweld, selfs herhaalde steunwerwing deur Jan Smuts namens die Tirolers en uiteindelik verskeie outonomie-ooreenkomste is daar tot ’n vergelyk gekom. Suid-Tirool het sy eie streeksparlement en regering gekry, en die grootste deel van regeringsfunksies, uitgesluit hoofsaaklik regspraak, die weermag en belastinginvordering, is na die Suid-Tiroolse regering afgewentel. Vandag kry dié regering tussen 80% en 90% van die belastinggeld terug wat mense en maatskappye in Suid-Tirool aan Rome betaal.

 

 

 

Hoewel ’n kwart van Suid-Tirool se bevolking nou Italianers is, veral ná gedwonge verskuiwings van arm Italianers in die periode tussen die twee wêreldoorloë, leef die verskillende gemeenskappe van Suid-Tirool in vrede saam in een gebied, maar kultureel langs mekaar met eie skole, eie kultuurinstellings, ’n klem op veeltaligheid en groot ruimte vir die beskerming van onderskeie identiteite.

 

 

 

Terwyl die nasionale grense en soewereiniteit van Italië geensins bedreig word nie, word die bestaan van die klein Duitssprekende minderheid, sowat 380 000 mense in ’n land met byna 60 miljoen burgers, ook nie meer bedreig nie. Inderwaarheid floreer die Tiroolse gemeenskap ekonomies en kultureel, wat ook groot voordele vir die Italianers in die streek inhou. Dit word ook deesdae deur die Italiaanse regering as ’n voorbeeld vir die hantering van minderheidsvraagstukke voorgehou, soos in 2014 met die Oekraïne-vraagstuk.

 

 

 

Dit is nie net in die Donbas-streek waar etniese konflik die afgelope paar jaar tot vernietiging gelei het nie. Die spanning tussen sentrale magsentrums wat die sentrale, soewereine staat wil beskerm en eise van minderhede as bedreigend beskou, lei tot oorloë in Afrika, Asië en die Midde-Ooste, met talle broeiende konfliksituasies op elke kontinent.

 

 

 

Ook in Suid-Afrika is die situasie onhoudbaar. Die drang van die ANC om sentrale mag te behou, is vernietigend vir volkere soos die Afrikaner. Óf die sentrale staat sal afgetakel moet word, óf die Afrikaner sal ophou bestaan. Dit is dieselfde as die oorlewingsvraagstukke van die meeste ander minderhede wat hierbo genoem is.

 

 

 

Die voorbeeld van Suid-Tirool sal deur minderhede op die internasionale agenda geplaas moet word. Vir Afrikaners sal dit vinniger territoriale konsentrasie vereis. Maar minderhede sonder groepsregte in ’n sterk sentrale staat word óf uitgewis, óf stelselmatig tot assimilasie geforseer, óf tot konflik en selfs geweld gedwing. Dit moet ten alle koste vermy word

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

SABC Building in Aukland Park 02/08/05 pix robbie tshabalala

“Rondskuif van Afrikaanse SAUK TV-nuus lyk desperaat, maar ondeurdag”

Distribution,Electric,Substation,With,Power,Lines,And,Transformers,,At,Sunset.

Eskom sê hy sal krag kan opwek te midde van yskoue weerstoestande

Police,Lights

Soektog na vermiste vliegtuig en drie insittendes begin

moira

Vermiste atleet gevind nadat sy die Comrades-marathon voltooi

NWU

Kill the Boer by NWU gesing

Ander Nuus Artikels

new-tshwane-speaker
DA stel mosie van wantroue teen die Tshwane-metro speaker in
Police,Lights
Opvolg: Vermiste vliegtuig gevind
TSHWANE2
VF Plus dien Paia-aansoek in oor Tshwane-eiendomswaardasierol
SABC Building in Aukland Park 02/08/05 pix robbie tshabalala
“Rondskuif van Afrikaanse SAUK TV-nuus lyk desperaat, maar ondeurdag”
Distribution,Electric,Substation,With,Power,Lines,And,Transformers,,At,Sunset.
Eskom sê hy sal krag kan opwek te midde van yskoue weerstoestande

Soggens met Sarina

Maandae tot Vrydae
10:00 - 12:00

Luister nou

Volgende