13 Oktober 2023
Die antieke Ateners het in die jaar 621 voor Christus ’n wetgewer met die naam Drako gevra om ’n geskrewe regskode op te stel. Wette was destyds net mondelings, en die reg was nie eenvormig toegepas nie. Die Drakoniese Kode was veronderstel om ’n gestandaardiseerde en deursigtige stel wette te wees, toeganklik vir alle burgers ongeag hulle sosiale status.
Die antieke Grieke was egter geskok toe hulle die wrede strawwe van die Drakoniese Kode sien. Drako se wette het die doodstraf vir byna alle oortredings voorgeskryf, selfs vir geringe misstappe. Hy het geglo dat swaar strawwe enige misdaad sal afskrik. Dit was so erg dat verdrukkende wette vir die afgelope 2 700 jaar al as “drakonies’ beskryf word. Dit was dus geen wonder dat die strawwe van die Drakoniese Kode minder as ’n eeu later deur die wyse Ateense staatsman Solon drasties versag is nie.
Daar was oor die eeue heen vele verdrukkende wette en wrede strawwe in baie verskillende lande en beskawings. Tog was meer as ’n miljard mense eers in die twintigse eeu vir dekades lank deur ’n drakoniese stelsel verdruk. Hierdie stelsel was die kommunisme, wat vandag nog van lande soos China in vele opsigte ’n soort opelugtronk maak. Die vraag is hoekom kommunisme en Marxistiese sosialisme oral waar dit toegepas is, tot verdrukking en armoede gelei het?
Die rede hiervoor is dat die utopiese sosialistiese ideale om “hemel op aarde” te skep, in hel op aarde eindig. Die sosialistiese aandrang op gelykheid lei noodwendig tot die einde van vryheid. Dit is mos nie moontlik om alles vir sekeres te gee, sonder om alles van ander af weg te vat nie. ’n Samelewing kan óf vry en ongelyk, óf gelyk en onvry wees, maar nie albei nie. Sosialiste sien gelykheid nie as ’n gelyke wegspring nie, maar as gelyktydig die wenpaal bereik. Die verdrukking kom in by die sosialistise staat wat die rol van “groot gelykmaker” speel deur met wette of wapens van die “rykes” te vat en dit met groot gebaar aan hulle ondersteuners uit te deel asof dit hulle s’n is. In sosialistiese lande is gelykheid nie gelyke vryheid nie, maar “gelyke knegskap”.
Waar Christene die armes ryker wil maak deur mededeelsaamheid, wil sosialiste die “rykes” armer maak deur herverdeling. Die gevolg hiervan is nog groter armoede. Die produktiewe deel van die samelewing produseer minder, want die vrugte van hulle arbeid word deur die staat gesteel. Die onproduktiewes werk nóg minder, want hulle kry wat hulle wil hê mos gratis.
Die ANC gee dikwels hulle drakoniese wette mooi name, soos die wet op “billike indiensneming”, of nasionale gesondheidsversekering. In die praktyk is dit egter drakonies, omdat dit op gedwonge herverdeling deur staatsmag neerkom. Die goeie nuus is dat vryheid op die duur nog altyd sosialisme oorwin het, omdat sosialisme nie ’n werkbare stelsel is nie. Voorstanders van vryheid het dekades gelede al die Koue Oorlog gewen. Daarom moet ons nie optree as verloorders nie, maar die saak van vryheid met mag en mening bevorder.