Die strewe na vrede is vandag steeds ‘n eindelose stryd


Luister nou

Volgende

Die strewe na vrede is vandag steeds ‘n eindelose stryd

Nuuskommentaar: 2 Desember 2021

Deur: Jaco Kleynhans

Dit was die groot Afrikaanse musiek ikoon Laurika Rauch wat in 1992 in haar liedjie Die Gang oor die Boeregeneraals De Wet, Cronjé‚ en De la Rey en die Boere se eindelose strewe na vrede hier aan die suidpunt van Afrika gesing het. Die Boeregeneraals was destyds oortuig daarvan dat ‘n oorwinning teen die Engelse langdurige vrede tot gevolg sou hê.

Die skrywer H.G. Wells het in 1914 na die Eerste Wêreldoorlog verwys as die oorlog wat alle oorloë tot ‘n einde sou bring. Mettertyd het verskeie Britse leiers ook so na die oorlog begin verwys. Uiteindelik sou die Verdrag van Versailles, waar vrede na die oorlog gesluit is, die direkte oorsaak vir die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog twee dekades later wees.

Tydens ‘n toespraak op 22 April 1960 in die Amerikaanse deelstaat Oregon het die Amerikaanse president John F. Kennedy opgemerk dat dit ‘n ongelukkige feit is dat vrede slegs verseker kan word deur vir oorlog voor te berei.

Meer as twee duisend jaar voor Kennedy het die Griekse filosoof Aristoteles gesê: “Ons maak oorlog sodat ons vrede kan hê.” Die wêreld se geskiedenis is oor millennia gekenmerk deur leiers, moondhede en magte wat daarvan oortuig was dat in die oorwinning oor andere die sleutel tot langtermyn vrede opgesluit sou wees.

Die afgelope tyd begin die oorlogsdromme weer in verskeie wêrelddele te dreun. Gaan Rusland die Oekraïne binneval? Sal Navo-magte die Oekraïne in so ‘n geval te hulp snel?

In die Ooste raak dit duideliker dat dit nie meer ‘n vraag is oor of China vir Taiwan wil aanval nie, maar eerder wanneer China dit sal doen. Ook hier is die vraag dan wie vir Taiwan sal wil bystaan. In ‘n peiling wat die afgelope week deur die gesaghebbende Ronald Reagan Presidensiële Stigting en Instituut gedoen is, het meer as 50% van Amerikaners aangedui dat hulle China as die grootste veiligheidsbedreiging vir die VSA beskou. Sewe-en-dertig persent van Amerikaners voel dat die Amerikaanse weermag sy fokus na Oos-Asië moet verskuif.

Onderhandelinge vir die bereiking van ‘n nuwe kernooreenkoms met Iran is die afgelope week in Wene, Oostenryk hervat met lande soos Duitsland, Frankryk, Brittanje, die VSA, Rusland en China wat by die onderhandelinge betrokke is. Intussen het Israel sy aanvalle op groepe in Sirië wat deur Iran ondersteun word opgeskerp en het Israel se premier Naftali Bennett gesê dat dit ‘n fout vir Westerse lande sal wees om ‘n nuwe ooreenkoms met Iran te sluit. Israel se militêre leiers het onlangs aangedui dat hulle gereed maak vir ‘n moontlike oorlog met Iran.

Daar is nog talle plofbare spanningslyne tans in ander wêreldstreke soos Kasjmir, Ethiopië, groot dele van die Midde-Ooste en in die Himalaja-gebergtes wat almal tot groot oorloë aanleiding kan gee.

Al hierdie konfliksituasies het ‘n lang historiese konteks met leiers en moondhede wat in die verlede oortuig was dat hulle deur oorlog langdurige vrede sou kon verseker. Uiteindelik is dit juis onopgeloste strydpunte wat in die meeste gevalle tot die huidige krisisse aanleiding gegee het. Waar en wanneer die volgende groot oorlog gaan uitbreek weet ons nie, maar die geskiedenis bevestig dat dit wel op pad is en dat wêreldleiers weer oortuig sal wees dat oorlog die beste weg na vrede is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

Kleinfontein

Kleinfontein verwelkom die stigting van ‘n Burgemeestersubkomitee rakende gemeenskappe

SABC Building in Aukland Park 02/08/05 pix robbie tshabalala

“Swak bestuursbesluite lei tot finansiële nood by die SAUK”

FlySafair-to-offer-fly-now-pay-later-solution-800x400 (1)

Kajuitkonsternasie oor ’n botteltjie water

Untitled design (5)

Paaie in die Ekurhuleni-metro óók deurspek met slaggate

Gq-hV1-WIAAgdFh

Adjunk-burgemeester lê die Tshwane-metro se konsepbegroting voor

Ander Nuus Artikels

b1c1114b57e7f27b20fdcc84c7bdc4628109d182=w700
Panyaza Lesufi verklaar die DA as ‘n vyand van ANC
Amazing sunset at savannah plains in Tsavo East National Park, Kenya
Afrika het sy warmste dekade nóg beleef
Pieter_Groenewald
3 000 paroolgangers in een jaar wéér tronk toe
Kleinfontein
Kleinfontein verwelkom die stigting van ‘n Burgemeestersubkomitee rakende gemeenskappe
SABC Building in Aukland Park 02/08/05 pix robbie tshabalala
“Swak bestuursbesluite lei tot finansiële nood by die SAUK”

Die strewe na vrede is vandag steeds ‘n eindelose stryd


Luister nou

Volgende