Nuuskommentaar: 5 Julie 2022
Deur: Jan Bosman
Daar is oorgenoeg konsensus in demokrasieë oor die wêreld dat deursigtigheid, aanspreeklikheid en verantwoordbaarheid kernwaardes vir enige demokrasie is. Die graad van demokrasie word verder bepaal deur die mate van verantwoordbaarheid en aanspreeklikheid van regerings en politici.
Ook in Suid-Afrika word dit soos volg in die grondliggende bepalings van die Grondwet verwoord: “… ‘n veelparty-stelsel van demokratiese regering, om verantwoordingspligtigheid, ‘n responsiewe ingesteldheid, en openheid te verseker.” Hierdie mooiklinkende ideaal hou egter nie tred met die werklikheid in Suid-Afrika nie.
Die teorie van die grondwet vereis dus dat mense met die nodige kundigheid, vaardighede en werksetiek asook ʼn sterk etiese ruggraat in senior poste aangestel moet word. Helaas het hoofregter Zondo in sy aanbevelings ʼn kritiese oordeel gevel oor die ANC en die se kader ontplooiingskomitee wat instrumenteel was in staatskaping.
Die week sê Gwede Mantashe ons moet hom en die regering nie blameer vir dae se beurtkrag en chaos nie en die voorafgaande week is hy ongelukkig oor die Zondo verslag se bevindinge oor kaderontplooiing want dit moes transformasie bring.
Die ANC word ook tans deur ander konsepte beskryf. Die Adjunk President David Mabuza praat van die “demone” van faksiegevegte en korrupsie wat die ANC lamlê. Die kommentator Tim du Plessis skryf oor die 2 konsepte beplanning en onderhoud wat Afrika nie onder die knie kan kry nie. Die gevolg is dat die ANC en sy kaders ‘n eens suksesvolle staatsinfrastruktuur deur wanbestuur, gebrekkige bestuur of doodeenvoudige onbekwaamheid laat verval. Maar as die staatsdiens suksesvol is in transformasieteikens en misluk in alles anders, was die ANC dan nog steeds suksesvol volgens Gwede Mantashe se siening van die ideale wêreld.
Miskien moet ons dan by Gwede Mantashe begin en hom voorhou as die vertoonvenster van kaderontplooiing en hoekom die toepassing daarvan so ʼn klaaglike mislukking is. Dit is hy en baie ander soos hy wat met arrogansie en geen beplanning binne reeds swak beleid voorploeter op ʼn pad van selfvernietiging en soos Luthuli Huis die week jubel as 200 000 poste in die laaste jaar “geskep” is terwyl miljoene steeds werkloos is en daar min ekonomiese groei is.
Die menseregte aktivis wyle Rhoda Kadalie het geskryf “Dit is hoe ons van ’n kleptokratiese staat tot ’n misdaadstaat van epiese omvang ontwikkel het. Ek is bevrees dít is die trajek van Afrikastate ná onafhanklikheid. Pres. Atifete Jahjaga van Kosowo het kragtig gesê: “Demokrasie moet deur oop gemeenskappe gebou word wat inligting deel. Wanneer daar inligting is, is daar verligtheid. Wanneer daar debat is, is daar oplossings. Wanneer daar geen magsdeling, oppergesag van die reg of verantwoordbaarheid is nie, is daar misbruik, korrupsie, onderdrukking en overgenoegdheid.”
ʼn Regering wat so voortstrompel ten spyte van goedbedoelde advies, die planne van menige kundige rolspelers ignoreer en wat afwysend reageer op grondige bevindinge kan nie anders as om dan verantwoordelik gehou te word vir die al groterwordende breuk in vertroue tussen regering en die burgerlike samelewing nie.
Shakespeare het gesê “Die dwaas dink dat hy wys is, maar die wyse weet dat hy ‘n dwaas is.” Dit kan egter meer wetenskaplik omskryf word. Twee sielkundiges, proff David Dunning en Justin Kruger van Cornell Universiteit in Amerika het in 1999 geskryf oor die Dunning Kruger-effek. In kort kom dit daarop neer dat daar individuele mense is wat hulle eie vermoë oorskat om ‘n taak suksesvol te kan afhandel. Die Dunning-Kruger effek het dus ʼn naam gegee aan diegene wat geneig is om hul eie beperkte vermoë en prestasie, dramaties te oorskat. Mense wat werklik onbevoeg is, vergoed daarvoor met onvanpaste en oordadige selfvertroue en flous hulself soms omdat hulle verward is deur hulle selfversekerde optrede.
Ons weet ook nou na dekades dat die kollektief van ANC leierskap ʼn oormaat arrogansie het hulself onaantasbaar ag en veral hulle eie vermoë hopeloos oorskat. Die meeste kommentators en die burgerlike samelewing begin dit insien en hopelik in die toekoms ook die meerderheid kiesers. Stommiteit het ʼn naam gekry en die regerende party en sy kaders ly in oormaat daaraan.