Nuuskommentaar: 20 Junie 2023
Deur: Jan Bosman
Uit die blou van onse hemel,
uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes
waar die kranse antwoord gee,
Sounds the call to come together,
And united we shall stand,
Let us live and strive for freedom,
In South Africa our land.
Oor die 21 woorde in Afrikaans in die nasionale Volkslied van 83 woorde, het die politieke opportunis Carl Niehaus die lede van sy nuwe party, African Radical Economic Transformation Alliance (Areta), opdrag gegee om nie die Afrikaanse deel van Suid-Afrika se volkslied te sing nie. Trouens die lede word gevra om te gaan sit as die deel van die volkslied gesing word. Die rede sou wees dat dit ʼn belediging is vir die land en sy mense en dat die pyn van die rassistiese en apartheid Suid-Afrika weer terugbring elke keer as dit gesing word.
Dit word ʼn politieke speelbal net soos in 2016 wat die EFF ook die verbod op die gebruik van Die Stem voorgehou het as deel van die voorwaardes vir samewerking met ander partye na afloop van die plaaslike regeringsverkiesing. Dit wil telkens voorkom asof Die Stem en kritiek daarteen obskure politici en politieke partye se relevansie moet demonstreer. Gelukkig is Carel Niehaus en sy Areta se teenwoordigheid nie eers merkbaar op die politieke radarskerm van Suid-Afrika nie.
Geleenthede, soos die gekkigheid van Carl Niehaus, moet ons egter telkens gebruik om onsself te herinner aan waar dit vandaan kom en wat dit vir ons beteken. CJ Langenhoven het die woorde van Die Stem van Suid-Afrika in 1918 geskryf. Dit reflekteer in sy bewoording die geskiedenis van die Afrikaner en veral die tydsgees van swaarkry, afhanklikheid aan God en diepe patriotisme. Sedert 2 Mei 1957 tot 1994 was Die Stem van Suid-Afrika die Volkslied en het tot in 1997 die status gedeel met Nkosi Sikelel ‘iAfrika toe ‘n nuwe hibriede volkslied aangeneem is.
Ons grondwet, nasionale vlag en volkslied het hulle beslag gekry uit ʼn geskiedkundige proses van kompromie en onderhandelinge wat gevolg het na ʼn tyd van groot historiese konflik, verdeeldheid en vyandigheid. Ons vergeet altyd gerieflikheidshalwe dat 1994 en dit wat daarop gevolg het ʼn groot historiese kompromis was. Geen party het alles behaal wat hulle wou hê nie. Dit was ʼn kwessie van neem en gee.
Mnr Nelson Mandela skryf in die voorwoord tot die publikasie Nasionale Simbole van Suid-Afrika “Die Nasionale Volksliedere Nkosi Sikelel ‘iAfrika en Die Stem van Suid-Afrika, die Nasionale Wapen en die Nasionale Vlag is die manifestasie van ʼn begeerte om nasionale konsensus te bereik.”
Deur die prysgawe van politieke mag in 1994 het Afrikaners reeds die hoogste prys betaal. Om dan nou in 2023 weer die geykte standpunte te herhaal dat Die Stem en die gedeelte in Afrikaans maar moet sneuwel is kortsigtig en sal beslis nie bydra tot nasiebou of versoening nie. Vir Afrikaners verteenwoordig Die Stem dalk ons onmisbare bydrae tot die land, ons patriotisme tot die land en sy mense. Dit is dalk juis die teenwoordigheid en bydrae van Afrikaans wat ander politieke opportuniste in die soeke na relevansie soveel aanstoot gee.
Die Nasionale Lied wat in 1997 aanvaar is en sedertdien in gebruik is, moet gesien word as ʼn kompromis voorstel en het strofes van beide Nkosi Nkosi sikelel’ iAfrika en die Stem van Suid-Afrika in 5 verskillende amptelike tale saamgevoeg. Vir 26 jaar is dit nou reeds die amptelike lied van Suid-Afrika en is dit reeds goed gevestig in die nuwe demokrasie in Suid-Afrika. Die huidige weergawe bevestig die afhanklikheid van God, (eerste strofe) die beroep tot vreedsame naasbestaan (tweede strofe) die beskrywing van ons land (derde strofe) en die saamstaan as nasie (vierde strofe).
Carl Niehaus en andere soos hy weier om te aanvaar dat Afrikaners onlosmaaklik deel is van die land. Dit pas sy eie en andere se agendas nie. Om weg te neem is nie die antwoord nie. Om te vra of die betekenis van die woorde nog sinvol is, is nie die antwoord nie. Om Afrikaans so af te takel sal nie oplossings bring vir die eiesoortige probleme wat Suid-Afrika teister nie. Om een geskiedenis te vermy in ons nasionale lied is ʼn groot prys om te betaal want die geskiedenis het ons gevorm. Carl Niehaus krap waar dit nie jeuk nie.
