Nuuskommentaar: 2 Mei 2023
Deur: Jaco Kleynhans
Oor die afgelope een duisend jaar was die lentemaande van April en Mei in Europa nog altyd die tyd van groot militêre offensiewe. In elke groot oorlog om beheer van grondgebied, veral in Sentraal- en Oos-Europa deur die Romeine, Bisantyne, Habsburgers, Ottomane, Napoleon se Franse leër, en meer onlangs die groot strydende magte van die wêreldoorloë, was die lente die tyd van die groot nuwe aanslag.
In die lente van 1521 het die Ottomaanse weermag Hongarye binnegeval en dié land se weermag verslaan. Meer as 150 jaar van Ottomaanse heerskappy sou vir die Hongare volg. Groot dele van Hongarye is tydens die Ottomaanse heerskappy volledig vernietig.
In 1683 het die Ottomaanse magte ook groot dele van die Balkan wat nog onder die Habsburgers se beheer was, oorgeneem in hulle opmars na Wene. Teen Mei 1683 is Belgrado, hoofstad van Serwië, beset. Later daardie jaar het ’n breë koalisie van Sentraal- en Oos-Europese magte, met die steun van die Vatikaan, egter die Ottomane in Wene verslaan. Wes-Europa, en daarmee saam die Westerse beskawing en die Christendom in Europa, is teen ’n hoë koste en groot lewensverlies deur die magte van Sentraal- en Oos-Europa gered.
Sedert die oorwinning by Wene het die lande en volkere van Sentraal- en Oos-Europa telkens voor die uitdagings van aanslag, oorheersing en selfs uitwissing gestaan. Vandag is die onderdrukking van die Sowjetunie en kommunisme nog vars in die geheue van mense in lande soos Pole en Hongarye.
Die teenoorgestelde is vandag waar vir Wes-Europa. Geen historiese geheue, in elk geval verder terug as die Tweede Wêreldoorlog, bestaan meer onder ’n meerderheid van mense in Wes-Europese lande nie. Dit lei tot ’n duidelike verval in die Westerse beskawings van veral Wes-Europa.
Terwyl huidige ekonomiese uitdagings, demografiese agteruitgang, swak leierskap, onbeheerde immigrasie, globalisering en ’n verlies aan ’n gedeelde toekomsideaal vir die agteruitgang van die Westerse beskawing blameer kan word, is die beste enkele woord wat die probleem opsom “selfvoldaanheid”.
Ryk, vreedsame Westerse lande en hulle bevolkings het vir dekades ná die Tweede Wêreldoorlog, en veral ná die einde van die Koue Oorlog, in ’n greep van selftevredenheid verval – totaal onbewus van die werklike globale gevare en hulle tekortkominge om dit te hanteer.
Dit is hier waar lande in Sentraal- en Oos-Europa hulleself duidelik van Wes-Europa onderskei. Die Pole het beter as die Duitsers verstaan waarom jy nie van Russiese gas afhanklik moes word nie. Sentraal- en Oos-Europese lande verstaan die stryd om invloed en beheer vandag die beste. Veertien maande na die uitbreek van die bloedigste oorlog in dekades in Europa, en op die vooraand van nog ‘n groot lente-offensief, hierdie keer op die slagvelde van die Donbas, is dit duidelik dat dit juis die lande van Oos-Europa is wat die uitdagings van die toekoms deeglik begryp.
Verlede week was pous Franciskus op besoek aan Hongarye. Binne die Katolieke Kerk en die Christendom in Europa, is Hongarye, soos Pole, vandag ’n baken van hoop.
Terwyl die Christelike geloof en eeue-oue Westerse kulture, tale en waardes in die meeste Westerse lande wegkwyn en deur nuwe, hoogs individualistiese multikulturele samelewings vervang word, is dit in lande soos Pole, Hongarye, Slowakye, Slowenië, Serwië, Roemenië en Bulgarye waar die Westerse identiteit, Christelike geloof en waardes floreer. Afrikaners kan en moet sterk aansluiting hierby vind.