Nuuskommentaar: 20 Februarie 2023
Deur: Jan Bosman
Hoog in sy skik kondig die president onlangs aan dat ons ʼn nuwe Minister van Elektrisiteit gaan kry. Daar word nie gesê hoe en wat die minister gaan doen binne ʼn reeds logge kabinet met nog meer verkwisting nie. Die pleister word op die sweer geplak want die eintlike verrotting waaroor geswyg word is in Eskom, infrastruktuur, dienslewering, kaders en korrupsie. Deur eenvoudig ʼn minister aan te stel word die probleem en die oorsaak van die sweer egter nie aangespreek nie.
Die ANC-regering het oor jare die kuns vervolmaak om die probleem uit te lig met simboliese handelinge sonder om met sigbare uitvoering die probleem daadwerklik aan te spreek. Die verrotting en verval duur voort. Die pleister wat ter wille van oëverblindery opgeplak word is, die simboliese aanspreek van die probleem.
Die slaggat sindroom is ʼn meer praktiese voorbeeld van hoe daar te werk gegaan word. Ons platteland en stede wat met trots ʼn verhaal kon vertel van ʼn vorige bedeling se harde werk, vooruitgang en trots, vertel vandag ʼn ander tragiese storie. Die verhaal van verval.
‘n Verskynsel wat deesdae al hoe meer voorkom is die waarskuwingsborde wat padverbruikers waarsku oor slaggate in die pad. Die borde wat in werklikheid die uitsondering behoort te wees, word deesdae die norm. Die ironie is dat die waarskuwingsborde self bepaalde koste in terme van vervaardiging en oprigting inhou. Die borde moet egter die gevaar uitwys en vervang eerder die herstel van die toenemende slaggate in ons paaie. Dit is asof munisipaliteite en instansies wat gemoeid is met padherstelwerk dit makliker ag om eerder die waarskuwingsborde op te rig, as om die probleem van slaggate op te los en aan te spreek. Dit verg harder werk maar in die Suid-Afrikaanse samelewing is dit die mees praktiese demonstrasie van die onvermoë en soms onwilligheid om die probleem aan te spreek. Die kaders se antwoord om ʼn uitdaging is dus eerder om liewers die waarskuwingsborde op te sit en motoriste te maan om versigtig te wees, as om die slaggate eenvoudig en behoorlik reg te maak.
Die President het die slaggat sindroom gebruik om die energiekrisis aan te spreek. In stede daarvan om die oorsake uit te roei en met daadwerklike planne die energiekrisis die hoof te bied word die probleem verskuif na ʼn nuwe ministerie wat uit die deurmekaarspul met portefeuljes en lynfunksies en politieke faksiegevegte moet sin maak uit alles. Die krisis is veroorsaak deur ʼn magdom ander probleme waaronder onbevoegdheid en onvermoë van kaders. Skynbaar gaan nog meer kaders aangestel word en wys die bestaande planne nie uit hoe die politiek ontplooides tot orde geroep gaan word en verantwoordelik gehou gaan word nie. Die aanstelling van die minister is maar net nog ʼn pleister op ʼn sweer en die belastingbetaler moet hoes.
Die slaggat sindroom is ook vir dekades teenwoordig in die ewige naamsveranderinge van dorpe en strate. Dit is asof die denke in die regerende party is dat die probleem gaan verdwyn as die naam verander word. Baie plattelandse dorpe wat die ekonomiese krag was van hulle omgewing het oor die jare van name verander, maar is vandag slegs ʼn vervalle skadu van eens trotse vooruitstrewende dorpe. Die probleme is meer, maar die pleisters word geplak.
Beurtkrag, korrupsie, staatskaping, onbevoegdheid, slaggate, lekkende waterpype en magsmisbruik deur ʼn ramptoestand het al so deel van ons vuisvoos lewe geraak dat ons jubel en juig as ons iewers ʼn sprankie hoop van beloftes van dienslewering kry. In die geval net nog ʼn minister, net nog ʼn pleister wat ʼn al hoe groter wordende sweer moet toeplak.