Nuuskommentaar: 24 Mei 2023
Deur: Ernst van Zyl
Ek merk onlangs in die openbare gesprek ’n ooglopende korrelasie op. Die koorsagtigste swart-smeer-veldtogte deur politici en party meningsvormers, teiken duidelik organisasies en individue wie daarin slaag om Afrikaners te verenig en effektief te organiseer. Die onmiskenbare gifpyle in hierdie persone se retoriek en verdraaide analise, sal baie mense foutiewelik laat glo dat ons in die era van die “Afrikaner-gevaar” leef.
Uit die waarneming van hierdie verskynsel, vloei die volgende vanselfsprekende vraag: Wat kan so gevaarlik wees daaraan dat Afrikaners in hulself glo, hulself organiseer en ‘n gesonde trots het in hul kultuur en erfenis? Geen ander groep in Suid-Afrika word só blatant en meedoënloos op verskillende vlakke geteiken deur neerhalende retoriek wat daarop uit is om gevoelens van skaamte, skuld en minderwaardigheid onder hulle te skep nie. Ek het egter slegte nuus vir die propageerders van hierdie aanvalle – dit misluk duidelik.
Een van die redes vir hierdie veldtog teen Afrikaners wat saamspan, is waarskynlik die feit dat daar onder Afrikaners in die besonder, ’n nuwe benadering en filosofie van selfbestuur besig is om stewig pos te vat. Die Afrikaner weet maar te goed dat afhanklikheid lei tot oorheersing. Vele Afrikaners is teen nou behoorlik ontnugter met die idee dat die regering hulle probleme gaan of selfs wil oplos. Lei hierdie radikale kopskuif egter na moedeloosheid en hulpeloosheid? Hoegenaamd nie. Staatsafhanklikheid word toenemend vervang met innoverende staatsbestandheid en hiermee saam kom ook ’n vars sin van gesonde selfrespek, selfstandigheid en nuwe moed.
Hierdie transformasie in die denkwyse van Afrikaners bedreig die heersende orde. Die verkramptes van ons tyd, klou desperaat vas aan die illusie van ’n “nuwe daeraad” vir die ANC, maar meer spesifiek aan die ou idee van gesentraliseerde mag in die regering. Hulle veg verbete om ’n regeringsmodel te behou en vernuwe wat al vir meer as 113 jaar in suidelike Afrika misluk. Die aanhangers van die heersende orde is inderwaarheid die vyande van vryheid, wat nie enige oplossing duld wat nie groter staatsbetrokkenheid en -beheer behels nie.
Hulle verkondig dat indien jy nie jouself, jou gesin en jou gemeenskap se lot totaal wil oorlaat aan die staat nie, dan is jy boos, gevaarlik en ‘n bedreiging vir vrede. Alternatiewe denke is klaarblyklik gevaarlik vir ’n spesifieke belangegroep; want dit bedreig die ou gevestigde magsorde wat tans die ANC bemagtig. Volgens die staatsverslaafdes, is die enigste keuse wat jy mag hê, om jou geur van staatsafhanklikheid te kies. Vir enige opsie buite daardie venster, word die gebruiklike skelm truuks van etikettering, belediging, ongegronde assosiëring en verdelende disinformasie uitgehaal.
Die heersende sentraliserende orde se voet- en huursoldate se doelwit is om Afrikaners, en elke ander kultuurgroep en gemeenskap, hulpeloos, geïsoleerd en moedeloos te maak. Hoogs-gesentraliseerde state kan slegs hul mag effektief uitoefen wanneer hulle regeer oor gemeenskappe wat geatomiseer, eerder as georganiseerd, is. Afrikaners word spesifiek geteiken weens ons selfdoen ingesteldheid wat ons meer onafhanklik en vry maak en waar ons ’n groeiende lys van suksesse het om te deel.
Professor Koos Malan verwys graag na die woestyn van wanorde scenario wat besig is om te verwesenlik in Suid-Afrika. Woestyne is egter vol diere en plante met vindingryke oorlewingsstrategieë. Die versamelvoëls van die Kalahari is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Een versamelvoëltjie op sy eie sal nooit oorleef in die woestyn nie, maar ’n swerm wat hulle kragte saamspan en ‘n versamelnes bou, kry dit nie slegs reg om te oorleef nie, hulle floreer. Steur jou dus nie te veel aan die geblaf van die mislukte ou orde se aanvalshonde nie. Soos enige vegvlieënier sal getuig, klap die lugafweer die hardste wanneer jy oor die teiken is.