Nuuskommentaar: 14 Julie 2022
Deur: René van der Vyfer
Op Maandag, 11 Julie, verskyn daar ’n berig op Netwerk24 oor ’n navorsingsverslag wat bevind het dat ’n allemintige 80% van skole in Suid-Afrika wanfunksioneel is. Dit ontstel Suid-Afrikaanse burgers van alle kleure en geure, want dit lei tot die besef dat die rekord hoë jeugwerkloosheidskoers van 66%+ nie net die regering se mislukte pogings van werkskepping weerspieël nie, maar ook ’n mislukte onderwysstelsel wat jongmense lewer wat nie-indiensneembaar is nie.
Die swak onderwysleiers wil graag die stelling maak dat daar nie meer Model C vs Staatskole bestaan nie – maar die realiteit is anders. Dit bestaan beslis nog met slegs die volgende verskil: enkele skole waar die ouers ten volle by hul kinders se opvoeding en die skool se bestuur betrokke is (beslis nie net finansieel nie), teenoor duisende Staatskole, waar polities gedrewe aanstellings van leiers plaasvind. Hierdie onderskeid beklemtoon die belangrikheid van AfriForum se geveg teen die beplande Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys, wat voorstel dat gemeenskappe seggenskap moet verloor oor skole se taalbeleid, toelatingsbeleid, bestuur en finansiële besluite en vele ander sake.
In die mettertyd geld die volgende “beleid” in staatskole: die klasontwrigters het ’n reg tot onderwys en mag nie uit die klas gewys word nie, terwyl die 40 leerders wat wil leer geen regte het nie. Die alleenrede hiervoor is sodat die leierspan tot 14:00 net in hul kantore kan sit en ’n groot salaris verdien. Die gevolg is duidelik: ’n zero-dissipline omgewing waar basies geen leer plaasvind nie en hul enigste oplossing hiervoor is om die slaagvereistes te verlaag: tans op 30% en meeste van die tyd gekondoneer vanaf 25%.
Voorts is tegniese onderwys ’n groot gaping in Suid-Afrika se onderwysstelsel. Dit is in enige samelewing duidelik dat die meerderheid van die werksmag tegniese werk sal doen soos vervaardiging van motors, meubels, metaalstrukture, die herstel hiervan, bou ensovoorts. So, vanaf dag een in ’n kind se skoolloopbaan moet dit duidelik wees: sommige gaan beloning ontvang vir goeie akademiese werk – maar ander gaan presies dieselfde beloning ontvang vir goeie tegniese/handewerk. Waar is al die fantastiese tegniese skole wat Suid-Afrika gehad het? Gelukkig het die Solidariteit Beweging die tekort aan tegniese vaardighede raakgesien en Sol-Tech, ’’n noemenswaardige tegniese kollege van R300 miljoen, gebou met befondsing deur die Afrikaner-gemeenskap se maandelikse bydraes. Daar is egter geen rede waarom kinders nie reeds op skool hulleself met tegniese vaardighede kan bemagtig nie en dit is ’n skande dat dit deesdae ’n baie skaars geleentheid is.
Dit gaan hier oor die werksmag. Anders as wat Panyaza Lesufi se gereelde rasse-praatjies oordra, behoort die onderwysstesel nie rasseklassifikasie as primêre fokus te hê nie, maar eerder om jongmense op te lei wat indiensneembaar sal wees. Wat help dit tog as jongmense matriek “slaag” maar funksioneel ongeletterd is?