Nuuskommentaar: 27 Maart 2023
Deur: Werner Human
Die Internasionale Strafhof het vandeesmaand ʼn lasbrief uitgereik vir die inhegtenisneming van president Wladimir Poetin vir oorlogsmisdade aangesien daar glo redelike gronde bestaan om te glo dat hy en sy amptenare Oekraïniese kinders onwettig deporteer.
Hierdie gebeure is afskuwelik; die Verenigde Nasies en die Internasionale Strafhof se ondersoek dui daarop dat duisende Oekraïniese kinders deur die Russiese staat ontvoer en deur Russiese gesinne aangeneem word, in wat bekend staan as die “Russiefikasie” van dié kinders. Meer as 800 kinders het glo al in dié proses gesterf.
Hierdie dade kom neer op oorlogsmisdade en daarom die lasbrief vir Poetin se inhegtenisname. ʼn Deeglike feite-ontleding van die spesifieke gebeure sal nodig wees, maar die uiteinde sal bly dat oorlogvoering tragies en verwoestend bly. Ten spyte van die politieke en geo-politieke debatte oor die oorsake, voortsetting en beëindiging van die oorlog, moet daar nie vergeet word nie dat dit gewone gesinne is wat die pyn en lyding ondergaan, met geliefdes wat aan die dood afgestaan word en slagoffers wat verskeie letsels dra as gevolg van die konflik.
Wat sake bemoeilik, is dat die Internasionale Strafhof se gesag en konsekwentheid in vervolgings onder verdenking is. En die lasbrief teen ʼn staatshoof het Suid-Afrika weer in die kollig geplaas. Dít omdat Poetin ná die uitreiking van die lasbrief amptelik deur die Suid-Afrikaanse staat genooi is om in Augustus die BRICS-beraad (bestaande uit Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) by te woon.
Dit is die eerste aanduiding van die Suid-Afrikaanse staat se teenkanting teen die lasbrief, wat herinner aan Omar al-Bashir van Soedan wat in 2015 stilletjies, en oënskynlik met die hulp van die Suid-Afrikaanse staat, kon wegglip, wat inhegtenisname en oorlewering aan die Internasionale Strafhof onmoontlik gemaak het. Die bevinding van die Internasionale Strafhof was dat Suid-Afrika skuldig is aan pligsversuim ingevolge die Statuut van Rome.
Dit is werd om te noem dat die mees algemene kritiek teen die Internasionale Strafhof is dat hul dubbele standaarde toepas en partydigheid beoefen wanneer dit by die vervolging van oorlogsmisdade kom. Dr. Naledi Pandor, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het tydens die staatsbesoek van koning Philippe van België verwys na invalle, oorloë en die inhegtenisneming van politieke aktiviste van sekere lande, en daarmee te kenne gegee sy meen dat dit blyk dat magtige lande gevrywaar word teen vervolging. Daar kan aanvaar word dat sy verwys na die VSA en die Verenigde Koninkryk se oorlog in Irak en Afghanistan.
Verder, die Internasionale Strafhof se werkinge berus op die inkoop van lidlande en hul vertroue dat die Internasionale Strafhof wel sy mandaat kan uitvoer. Tans beskik die Internasionale Strafhof nie oor genoegsame vertroue om hoëprofielvervolgings in te stel en om uitvoering aan die Statuut van Rome te gee nie. Dit is opmerklik dat nie die VSA of Rusland ondertekenaars van die Statuut van Rome is nie.
Pandor het aangedui dat die Kabinet die saak sal bespreek, maar hier sit Suid-Afrika weer voor ʼn kruispad, soos met Al-Bashir in 2015. Dit is naamlik die politieke oorwegings en enorme gevolge van die uitlewering van ʼn staatshoof, teenoor ʼn plig waartoe Suid-Afrika self verbind is in terme van die Statuut van Rome.
Wat moet Suid-Afrika doen? Die Suid-Afrikaanse staat moet hul plig uitvoer en Poetin aan die Internasionale Strafhof uitlewer – hulle is daartoe verbind.
Daar moet nog baie water in die see loop voor Augustus, maar soos sake tans staan, is die kanse bykans nul dat Poetin deur Suid-Afrika uitgelewer sal word, en in ʼn wêreld-opset van internasionale verpligting teenoor plaaslike politieke belange sal plaaslike politieke belange altyd voorrang geniet.
Foto: CNN