Hoofstuk 26 – 6 September 2023
Die eerste stap van die radio se groei en ontwikkelingspad sedert 1 Augustus 2011 was die verbetering van die tegniese uitsaaigehalte.
Die volgende stap het deeglike besinning aangaande die programinhoud van die stasie behels. Die opdrag van die direksie was om die stasie op die pad van professionaliteit en volhoubaarheid te plaas.
Die produk van die stasie, sy programinhoud moes tegelyk vir die uitsaaigehoor aanvaarbaar moes wat die vermaaklikheidswaarde sowel as die inligtingswaarde betref. Dit moes ook tred hou met die standaarde van nasionale adverteerders wat nie graag advertensiebegrotings kanaliseer na uitsaaiers waarvan die inhoud nie altyd 100% van ‘n professionele standaard getuig het nie.
Die programinhoud was in die aanvanklike jare van die stasie ‘n variasie van professionaliteit en vrywillige liefdeswerk.
Aan die een kant was daar programaanbieding deur hoogs professionele omroepers van die kaliber van Johannes van der Walt, Anita Armand, Heinrich Marnitz, Friedel Hansen, Frik Pieterse en Martin Jansen. Hulle het almal reeds lang loopbane by die SAUK agter die rug gehad waar die hoogste standaarde van uitsaai by hulle ingeskerp was.
Aan die ander kant was daar ook programme wat deur vrywilligers aangebied is sonder enige vergoeding of professionele opleiding of ervaring.
‘n Belangrikste bestuursbeginsel in enige onderneming is dat die onderneming so goed is soos sy swakste produk.
Hoogs professionele uitsendings kon dikwels in die skadu gestel word deur minder professionele produksies van vrywilligers. Daarom was die uitdaging om uitsendings deurlopend en volgens gasheerskofte op ‘n volhoubare basis te herstruktureer.
Die uitsaaiskedule van die stasie is gestandardiseer in ooreenstemming met internasionale beste praktyke, met die instel van horisontale programmering wat beteken dat dieselfde persoon elke weeksdag in die dieselfde tydgleuf as gasheer of gasvrou opgetree het.
Hierdie aanpassing aan die uitsaaiskedule was ook ‘n voorstel vanuit die geledere van uitsaaipersoneel tydens ‘n vroeëre prokramkonferensie.
Die 45 minute voorafopgeneemde aktualiteitsprogram “Volksmikrofoon” is omskep in ‘n regstreekse uurlange polsende nuus-program met regstreekse onderhoude en publieke deelname. Hierdie aanpassing ten opsigte van die eerste aktualiteitsprogram sou later die norm raak vir die vestiging van die nuus-en aktualiteitsprogramme in die oggende vroeg, die etensuur asook in die laatmiddag huistoery-skof.
Heinrich Marnitz was die eerste aanbieder van die eerste Klankkoerant program weeksoggende tussen 6 en 8 voormiddag.
Spoedig sou die jong Sarina Johnson (nou Bosman), wat pas haar studies aan die Universiteit van Pretoria voltooi het en ‘n gewilde aanbieder was by die kampusradio Tuks FM, by hom aansluit.
James Kemp, wat vir ‘n tyd die radio verlaat het en ‘n draai in Kaapstad gemaak het as ‘n parlementêre mediabeampte van een van die partye, het sy terugkeer gemaak.
Die radio het gaandeweg weer jong talentvolle aanbieders wat eers verlore geraak het begin terugwen.
Die handelsmerk “Klankkoerant” sou mettertyd die sambreelnaam raak vir al Pretoria FM se nuus-en aktualiteitprogramme en die handelsmerk begin sy plek volstaan in die nasionale nuustoneel, met name soos James Kemp, Anton Meijer, Sarina Bosman, Esmarie Yssel en Este Gross wat as gerekende nuus-en aktualiteitsaanbieders na vore getree het.
Terwyl jonger talent gewerf en teruggelok is, is moeite gedoen om ouer ervare talent steeds te behou en aan te bied.
Heinrich Marnitz saai na ‘n kleurvolle uitsaailoopbaan van meer as 60 jaar, steeds daagliks uit op Pretoria FM.
Hy skryf later oor twee hoogtepunte van sy uitsaailoopbaan by Pretoria FM soos volg:
“Francois Botha of die “Wit Buffel”, het in Melbourne Australië teen die Nieu Seelander Sonny Bill Williams geveg.
(Heinrich Marnitz het dit uitgesaai, soos net hy kon)
“En ‘n regter van die Wit Buffel tref Sonny Bill Williams dat hy steier.. en nog een …. en nog een …!”
Willie Spies, Voorsitter van die Direksie …ry in sy motor.
Die opwinding van die boksgeveg op sy motorradio laat hom dadelik langs die pad stilhou. Terloops hy was onderweg na ‘n belangrike vergadering.
Aanvanklik is die geveg bepaal vir twaalf rondtes, maar toe Botha in die tiende die oorhand begin kry, is die geveg net daar en dan beperk tot net tien rondtes…”
Onnodig om te sê, Willie Spies was laat vir sy vergadering.”
So het Pretoria FM dit reggekry om die nuwe te kombineer met die ervare. Om jong talent te vind en te ontwikkel en om ‘n keur van professionele uitsendings te bring danksy die jarelange ervaring van gesoute veterane.
