4 Februarie 2025
Die EFF sê hy wil absoluut niks met die MK-party te doen hê nie, wat sy toekomstige deelname in die Progressiewe Koukus in twyfel trek.
Die EFF en die MK-party vorm deel van die parlementêre blok wat as opposisie vir die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) dien.
Die verhouding tussen dié twee partye was die afgelope tyd onder baie druk, nadat verskeie hoë-profiel EFF-lede by die MK-party aangesluit het. Die EFF se leier, Julius Malema het die MK-party daarvan beskuldig dat hy probeer om die party te verswak.
LEES OOK: “Straf eerder die ANC-leiers as Suid-Afrika,” vra AfriForum, Solidariteit vir Trump
Malema het gister tydens ‘n media-konferensie gesê die EFF en die MK-party sal nie saamstaan nie en sê die party het selfs die MK gevra om nie begrafnisse van EFF-lede by te woon nie.
Die MK-party se sekretaris-generaal, Floyd Shivambu sê die party het geen probleme met die EFF nie.
Die party het intussen gesê hy is bereid om die DA in die RNE te vervang, indien die party besluit om die regering te verlaat.
Die DA het ‘n dispuut verklaar nadat president Cyril Ramaphosa die onteieningswet onderteken het.
Die EFF het gister tydens ‘n mediakonferensie gesê hy deel baie van die ideologiese beleide van die ANC, terwyl die DA nie met die ANC se beleid saamstem nie.