7 Februarie 2024
Lede van verskeie politieke partye het sedert vroeg vanoggend buite die Groblersdal-landdroshof byeengekom vir die saak van die 63-jarige Piet Groenewald en sy 27-jarige stiefseun, Stephan Greeff.
Hulle word daarvan aangekla dat hulle ‘n werknemer van Groenewald se veiligheidsmaatskappy, Veneruru Kavari aangerand het, en ‘n hond op hom losgelaat het.
Die staat het as deel van hulle saak twee videos in die hof vertoon, waarin van die aanrandingsvoorval gesien kan word. Volgens die ondersoekbeampte, Grigory Maleasenya het Kavari die videos afgeneem terwyl die hond in sy rigting losgelaat is.
In ‘n tweede video is Kavari se beserings afgeneem. Die mans se regsverteenwoordiger, advokaat Casparus van Wyk het in reaksie op die videos gesê dat daar geen bewyse is dat die hond deur iemand aangehits word nie.
Die EFF-lid, Carl Niehaus het saam met ander lede van sy party buite die hof gesê dat die party geen rassisme sal duld nie, en dat hulle die vertoon van die Vierkleur-vlag ten sterkste sal teenstaan. Hy dring ook daarop aan dat borgtog nie toegestaan word nie.