Hoofstuk 6 – 8 Augustus 2023
Die byna oorweldigende steun waarmee die stasie van die begin af verras is, was ’n wonderlike aansporing vir almal wat met die oprigting en in standhou van die radio gemoeid was. Die steun kon ook gekwantifiseer word want Oktober 1993 se totale uitgawes – administratief, salarisse en kapitaalbesteding was sowat R195 000. Die donasies en inkomste uit advertensies, koekverkope en skenkings was méér as R212 000.
Op daardie stadium was daar maar net ’n kerngroepie van personeel wat alles aan die gang moes hou.
Die omroepers was die alom-bekende Johannes van der Walt bygestaan deur die ervare Anita Armand wat van Radio Jakaranda af by die stasie aangesluit het. Die eerste klank-kontroleurs was Johann Maritz en Sampie du Toit en die eerste stasiebestuurder, Chris Conradie. Dan was daar die nuus-skrywers onder leiding van Ellen Diedericks en Annemarie Joubert en natuurlik Jaap Diedericks, die bedryfsbestuurder, wat ’n bydrae gelewer het en gesorg het dat die uitsendings steeds glad verloop het.
En dan was daar natuurlik ds. Mossie van den Berg, die voorsitter van die Loodskomitee, maar eintlik die man wat die totale verantwoordelikheid vir die goeie verloop van alle sake in sy hande gehad het en dit op ’n voortreflike manier gedoen het.
Op die oggend van 18 September 1993 het Johannes van der Walt die eerste woorde oor die lug geuiter:
“Dit is Pretoria wat omroep. U luister na Radio Pretoria, die stasie te velde”.
Met die afskop van die stasie op Saterdag, 18 September 1993, met ‘n een-dag-vergunning-om-uit-te-saai, was die veronderstelling by die owerhede by Binnelandse Sake skynbaar dat die uitsending so teen son-sak-tyd beëindig sal word. Maar die Stasie-bestuurder, Chris Conradie, het dit anders verstaan. Hy het aangekondig dat vanaf Maandag 20 September sou die stasie daagliks van 06:00 tot 09:00 in die oggend en dan weer van 16:00 tot 18:00 in die middag sou uitsaai.
Die owerhede is deur hierdie verklaring onkant betrap want die Wetsontwerp oor ’n Onafhanklike Uitsaai-Owerheid, wat gemeenskapsradio’s sou reguleer, was nog nie deur die Parlement afgehandel nie.
Dit het beteken dat die Posmeester-Generaal enige saak van onreëlmatige uitsendings moes hanteer. Die Posmeester-Generaal wou egter nie dadelik ingryp nie, want die Parlement was mos besig om sy pligte op hierdie vlak te voltooi en oor te dra aan die Onafhanklike Uitsaai Owerheid.
Binne hierdie vakuum in die regulerende omgewing het die stasie geleentheid gekry om homself stewig in te grawe.
