Hoofstuk 4 – 4 Augustus 2023
Met die vergadering van die loodskomitee in April 1993 is die loodskomitee uitgebrei, met ds. Mossie van den Berg as die voorsitter en mnr. Jan Groenewald as die sekretaris. As verdere lede is toe gewerf : Dr. Cas Bakkes, ‘n Weermag offisier en dosent aan die Militêre Akademie, Prof. CJJ Basson afgetrede hoogleraar in Onderwysbestuurskunde, Prof. PG Nel, hoogleraar in Kultuurgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria, Mnr. Clem de Klerk, die sekretaris van die Afrikaner Kultuurbond en die tegnies-kundige Mnr. Jaap Diedericks, ‘n afgetrede SAUK-man wat een van die belangrike bouers en bestuurders van die stasie geword het. Dan was daar ook nog mnr. Johnny Schmidt, ’n radio- en klank-tegnikus, Willem Ratte wat na die veiligheid sou omsien en prof. AD Pont ‘n oud-dekaan van die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria.
Die komitee het ’n beslote korporasie, Pretoria Mediadienste geregistreer as die bestuur van die stasie, die eiendom van die Afrikaner Kultuurbond. Dit was ds. Mossie van de Berg, die voorsitter van AKB, se taak om hierdie groep Afrikaners saam te snoer in ’n samewerkende verband om so die ideaal van ’n radiostasie te verwerklik. Dit het hy vanweë sy mensekennis, geduld en verdraagsaamheid voorwaar reggekry, maar dit was nie ’n gelyk pad nie.
’n Belangrike faset van die beplanning was die finansiële aspek en is skattings gemaak van die kostes waarvoor voorsiening gemaak moes word. Die saak kry ook verder koers as in Julie 1993 kennis van die Departement Binnelandse Sake ontvang word dat sodra die nuwe lisensiëring-owerheid ingestel is, aansoek om ’n lisensie oorweeg sal word.
Op daardie stadium word daar al voorbereidings op Donkerhoek getref om die uitsaai-toring, wat mnr Peet Pieters besig was om in sy fabriek in Rosslyn te bou, op te rig sodra dit moontlik sou wees.
Die terrein op die Donkerhoek-rante, oos van Pretoria, is deur mnr. Jan Groenewald en sy vriende wat besig was om daar ’n Afrikaner-dorp, Kleinfontein uit te lê, aan Pretoria Mediadienste aangebied.
Dit was ’n ideale terrein wat vanweë sy ligging die moontlikheid geskep het om vandaar die hele Pretoria en ’n groot deel van die Oostelike Witwatersrand met die radio te bedien.
Op 16 Junie 1993 het die Loodskomitee ’n voorlegging van Jaap Diedericks, Chris Conradie en Wim Eek, ’n radio-ingenieur, ontvang waarin die breë doelwitte vir ’n radio, ‘n strategie om die doel te bereik, ’n bedryfsprognose en ’n uitsaaiskedule met koste-implikasies, uiteengesit is. Die bedryfsplan was geskoei op die kundigheid wat verkry is toe hulle in die destydse Ontwikkelings-korporasies in die tuislande betrokke was by die oprigting en aan die gang kry van radio dienste vir die nege Afrikatale.
Hulle het ook ’n voorstel oor die Missie van die stasie voorgelê :
“Ons strewe is om ’n Afrikaanse uitsaaidiens daar te stel en seker te maak dat ons taal en kultuurgoedere behou en uitgebou sal word en tot in lengte van dae in volksegte idioom oor die eter na ons volksgenote uitgedra word.”
Terselfdertyd is voorlopig beplan vir 28 uur uitsendings per week naamlik van 6 tot 8 uur in die voormiddag en van 4 tot 6 uur in die namiddag.
’n Eerste Programskedule is ook voorgestel en het so gelyk:
• Kenwysie en Aankondigings;
• Godsdiensopening;
• Nuus (elke uur);
• Dagprogram bestaande uit: aktualiteit, inbel-programme, rubrieke, stokperdjies, sport, kort hoorbeelde en luisteraarskompetisies;
• Nuus;
• Godsdiens; en
• Kenwysie en Afsluiting.
Daar is verder geoordeel dat voorlopig gebruik gemaak sou word van vryskut-omroepers, vrywilligers en, indien moontlik, ervare omroepers uit eie geledere want die omvang van die lopende uitgawes wat deur advertensie-inkomste gedek moes word, was nog nie presies vasgestel nie. Daarom is beplan dat die vestigingskoste ongeveer R145 000 sal wees en die maandelikse uitgawe R42 000. Aangepas met inflasie was die twee begrote bedrae in 2023 nagenoeg R800 000 vir die vestigingskoste en R230 000 per maand vir die maandelikse uitgawe.
