28 Januarie 2025
Die DA sê hy sal nie sommer net uit die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) onttrek nie.
Die DA leier John Steenhuisen het vandag die media toegespreek nadat die party se federale raad vergader het.
Die gesprek volg na president Cyril Ramaphosa verlede week besluit het om die Onteieningswet te onderteken. Verskeie politieke partye en organisasies het hulle ontevredenheid laat hoor, en het reeds aangedui dat hulle die howe sal nader.
Die DA het ook na die ondertekening dispuut verklaar oor die gebeure.
Steenhuisen sê hy het ‘n gesprek met Ramaphosa aangevra, in ‘n poging om die vertroue in die RNE te herstel en die verhouding tussen die onderskeie lede daarvan te verbeter.
Hy het bygevoeg dat die DA sy posisie in die RNE sal heroorweeg as wetgewing oor die nasionale gesondheidsversekering, nie die DA se voorstelle in ag neem nie.