3 Mei 2023
Die nasionale voorsitter van ActionSA, Michael Beaumont sê die ANC en die EFF het gister se raadsvergadering in die Johannesburg-metro met opset in duie laat stort.
‘n Nuwe burgemeester moes tydens dié vergadering verkies word.
Die speaker in die metro, Colleen Makhubele het egter die sitting uitgestel omdat die partye volgens haar nie gereed was om ‘n nuwe leier te verkies nie.
Beaumont sê dit is onaanvaarbaar dat inwoners van Johannesburg gyselaar gehou word deur die ANC en die EFF, wat nie kan ooreenkom oor wie die burgemeester moet wees nie. Hy meen hulle woon die sitting by om agt tot nege ure te spandeer aan koukusvergaderings. “Dit kos die belastingbetalers meer as R500 000 om dié raadsvergaderings te hou.”
Hy het ook uitgevaar teen die DA, wat volgens hom nie eers ‘n poging aanwend om ‘n stabiele koalisie in die stad te herstel nie.
Johannesburg is wéér burgemeesterloos na Al Jama-ah se Thapelo Amad onlangs uit die pos bedank het.