24 Augustus 2022
DIE AITSA FINALISTE WORD OP 24 AUGUSTUS 2022 OM 20:30 BEKEND GEMAAK!
Die lys finaliste in al 12 kategorieë word vanaand om 20:30 op Pretoria FM se webblad bekend gemaak, waarna die publiek die geleentheid sal kry om vir hul gunsteling kunstenaars te stem.
Daarna volg ‘n weeklikse program waartydens die finaliste in die onderskeie kategorieë bekend gemaak word. ‘n Uittreksel van elke kunstenaar, duo of groep se snit sal gespeel word, sodat die publiek ‘n ingeligte besluit kan neem oor wie uiteindelik op 29 November 2022 as wenner aangewys moet word.
Die kategorie-programme word uitgesaai op Pretoria FM en die publiek kan om 20:30 op die volgende datums daarna luister op 104,2FM, DSTV kanaal 887, www.pretoriafm.co.za of op Pretoria FM se toepassing. Die program word ook visueel uitgesaai en die publiek kan daarna kyk op Pretoria FM se webblad by www.pretoriafm.co.za.
Die eerste kategorie is NUWELING VAN DIE JAAR wat reeds vanaand om 20:30 uitgesaai word en LIEDJIESKRYWER VAN DIE JAAR volg op Woensdag 31 Augustus 2022 om 20:30
GLANSGELEENTHEID
Die glansgeleentheid vind op 29 November 2022 plaas by Choose Life Church in Pretoria en die publiek word uitgenooi om ook van 20:30 af hul kaartjies te bespreek by iTickets.co.za. Tydens die geleentheid word die wenners in die onderskeie kategorieë aangewys en Riaan Benade, Elandré, Demi Lee Moore, Tarryn Lamb en Droomsindroom gaan die gehoor vermaak en sorg vir ‘n onvergeetlike ervaring.
TWEE NUWE KATEGORIEË
Twee nuwe kategorieë is ook ingestel om erkenning te gee aan die rol wat stromingsplatforms as nuwe medium vir musiek speel. Die “Suksesvolste Afrikaanse Snit van die Jaar (Manlike Stem)” en “Suksesvolste Afrikaanse Snit van die Jaar (Vroulike Stem)” word by die bestaande kategorieë bygevoeg. Die wenners in hierdie twee kategorieë sal die snitte wees wat in die tydperk 1 April 2021 tot 31 Maart 2022 die meeste op stromingsdienste soos Apple Music, Spotify en YouTube geluister is, ongeag die datum van vrystelling. Die wenners in hierdie kategorieë sal tydens die glansgeleentheid op 29 November 2022 aangewys word.
BEOORDELING
Dank word uitgespreek teenoor elke kunstenaar en platemaatskappy wat hul inskrywings deurgestuur het. Beoordeling van al die snitte het plaasgevind van 20 tot 27 Julie 2022 deur ‘n paneel onafhanklike beoordelaars, asook verteenwoordigers van die vernaamste platemaatskappye. Die onafhanklike beoordelaars word jaarliks aangewys op grond van hul toepaslike ervaring en kundigheid. Hulle spandeer ure van hul tyd om noukeurig na elke snit te luister en punte volgens die kriteria toe te ken. Die onafhanklike beoordelaars vir 2022 was CJ de Swardt, Gisela de Villiers, Carlé Weber, Tinus Esterhuizen en Willie Strauss.
OUDITPROSES
Die uitslae van die beoordelaars is deur TGA Ouditeure geverifieer, wat reeds van die begin af betrokke was by die Aitsas en weer aangewys is as die ouditeure vir die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings 2022.
MERK DIE VOLGENDE DATUMS IN JOU KALENDER
- 24 Augustus 2022 om 20:30 – Bekendmaking op Pretoria FM se webblad van die finaliste in al die kategorieë, stemlyne open vir publieke stemme en kaartjieverkope open.
- 29 November 2022 – Toekenningsgeleentheid – Kaartjies kan bespreek word by www.itickets.co.za
Vir enige verdere inligting, stuur gerus ‘n e-pos aan [email protected] of volg Pretoria FM op Facebook en Instagram.
Willie Spies
Voorsitter: Aitsa TrustSelfoon: 083 676 0639