2 September 2022
Die verdagte wat daarvan beskuldig word dat hy die brand op 2 Januarie gestig het wat die parlementsgebou in puin gelê het, Zandile Christmas Mafe, het vir ‘n tweede keer geweier om in die hof te verskyn – dié keer omdat hy nie ‘n ketel in sy sel mag hê nie.
Hy het ook op ander luukshede aangedring soos ‘n televisie, radio, deodorant en petroleumjellie.
Sy regsverteenwoordiger, Luvuyo Godia sê die departement van korrektiewe dienste het wel gesê hy mag ‘n radio in sy sel hê, maar weens veiligheidsredes is die versoek om ‘n ketel te hê geweier.
Mafe appelleer teen ‘n hofbeslissing wat bepaal het dat hy nie op borgtog vrygelaat mag word nie, maar Godla sê sy gedrag benadeel sy saak.
Die regsgeleerde sê as hy hom so gedra terwyl hy in aanhouding is, kan die hof vra hoe hy sal optree wanneer hy uit is op borgtog en dan wel daarteen besluit.
Mafe het verlede maand ook geweier om in die hof te verskyn en het in die aanhoudingselle by die hooggeregshof in Kaapstad bly lê en gedreig met ‘n eetstaking.
Die saak is uitgestel en hy moet nou weer op 4 November in die hof verskyn.