31 Maart 2023
Die minister van toerisme Patricia de Lille het bevestig dat haar departement nié voortgaan met die omstrede borgskap van die Engelse sokkerklub, Tottenham Hotspur nie omdat sy twyfel of die bykans 1-miljard rand borgskap goeie waarde vir geld is.
Die VF Plus het intussen die aankondiging verwelkom dat daar voortaan groter klem gelê gaan word op die ontwikkelinge van die toerisme-sektor.
De Lille het tydens haar aankondiging oor die borgskap gesê dat die departement van toerisme weer sal fokus op volhoubare groei en ontwikkeling in dié sektor.
Die Tottenham Hotspur-borgskap sou die land byna R1-miljard kos en sou vir dria jaar duur.
LEES OOK: “OMSTREDE BORGSKAP VAN SOKKERKLUB IS ONWETTIG EN ONGELDIG,” SÊ DE LILLE
Die VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor toerisme, Michal Groenewald sê die borgskap-debakel het ʼn internasionale verleentheid vir die land geskep. “Dit het ook die onverantwoordelikheid en wanbestuur in die ministerie van toerisme belig wat oor die laaste jare onder die ANC-regering posgevat het.”
Hy sê dié projek, asook die implementering van die sogenaamde toerisme-bystandfonds tydens die Covid-19-ramptoestand, het dit duidelik gemaak dat die toerisme ministerie geen begrip het van sy rol, mandaat en verantwoordelikheid teenoor die toerisme-sektor in Suid-Afrika nie.
“Dit is belangrik dat diegene verantwoordelik vir die Tottenham Hotspur debakel, asook die wanfunksionering van die ministerie, tot verantwoording geroep word,” sê Groenewald.