21 April 2021
Die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het hom tot die hof gewend in ‘n poging om die kleuterskool – waar ‘n kleuter met kookwater gebrand het – toe te maak.
Volgens die departement word die dagsorgsentrum onwettig bedryf en het die skool te min personeellede in vergelyking met die aantal kleuters. Die departement het op 9 April ‘n brief uitgereik waarin hy die skool maan om sy deure te sluit.
Die skool is tien dae gegun om toe te maak, maar die kleuterskool ontken egter die bewerings en meen hy is geregistreer en word wettig bedryf.
Dié kleuterskool in Alexandra in die noorde van Johannesburg was vroeër in nuus nadat ‘n 2-jarige seun met kookwater gebrand het nadat hy glo sy broek bevuil het.
Die betrokke personeellid staan tereg op aanklagte van poging tot moord.