3 November 2022
Die VF Plus sê hy is in besit van ʼn dokument wat die departement van basiese onderwys se riglyne vir die insluiting van verskillende gender identiteite in skole bevat.
Hierdie riglyne is egter nog aan ’n beperkte gehoor bekendgestel.
Die VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor basiese onderwys, dr. Wynand Boshoff sê die uitvoerende gesag het skriftelike vrae van die VF Plus hieroor onbeslissend beantwoord en het ook versuim om te reageer op ’n ledeverklaring wat Dinsdag na aanleiding daarvan in die parlement gemaak is.
Hy sê een van die riglyne in die dokument is dat skole badkamers met private hokkies moet toerus sodat leerders van enige gender identiteit in totale privaatheid kan aan- en uittrek en toilet toe gaan.
“Geen teken mag buite vertoon word om sekere kleedkamers aan sekere geslagte toe te wys nie. Dit, terwyl puttoilette nog voorkom.”
Boshoff sê administratiewe riglyne word ook gestel, insluitend dat leerders nie volgens hul sogenaamde “dead name” aangespreek mag word nie. Dit is die naam wat aan hulle toegeken is voor die besluit om met ʼn ander gender te identifiseer.
“Die VF Plus se waarneming is dat die ideologie van radikale individualisme hiermee die beheer oor onderwys neem,” sê Boshoff.
Boshoff sê die VF Plus verteenwoordig ’n ander siening van die mens se plek in die wêreld. Die individuele mens is ondenkbaar sonder die gemeenskap – word selfs verwek deur gemeenskap. Die gemeenskap word uit gesinne en families opgebou en vorm weer deel van groter gemeenskappe, kultureel en polities.
’n Ordelike samelewing kan nie sonder gemeenskapsnorme bestaan nie. Nogtans is daar binne enige gemeenskap uitsonderings, of mense wie se persoonlike identiteit nie met die gemeenskapsnorme saamval nie.